Tema: Wat dink ek van myself? – Ek moet myself deur God se oë leer sien
Bybelteks: Psalm 139:14–15
Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
Dit is ook nodig om te praat oor hoe ons oor onsself dink. Baie mense dra ’n innerlike stem saam wat sê: Ek is nie goed genoeg nie. Ek het misluk. Ek is nie mooi genoeg nie. Ek beteken nie genoeg nie. Kom ons begin by liefde vir onsself.
Het jy jouself lief? Dink jy positief oor jouself, of is jy altyd negatief oor jou gewig, veltoestand, ouderdom, pyne en kwale en nog baie ander dinge?
Die manier waarop jy oor jouself dink, maak ook ’n verskil aan hoe jy optree. Aanvaar jy jouself soos jy is? Aanvaar jy dat die Here jou geskep het soos jy lyk, met jou haarkleur, liggaamsbou en alles wat jou uniek maak?
Om jouself lief te hê en positief oor jouself te dink, beteken ook dat jy na jouself moet omsien. Hier is ’n paar dinge wat jy kan doen:
Dit is maar net ’n paar voorbeelde.
Laat staan die negatiewe denke en neem ’n besluit om meer positief te leef. Dit maak op sigself ’n verskil aan hoe ons na die lewe kyk en dit beleef. God ag elkeen van ons na waarde. Die manier waarop ek oor myself dink, moet al hoe meer ooreenstem met die manier waarop God na my kyk. Ons identiteit word nie bepaal deur ons foute, ouderdom, prestasies of ander mense se opinies nie. Ek en jy is kosbaar, want elkeen van ons is na die beeld van God geskep.
Here, dankie dat U my wonderbaarlik gemaak het en dat my waarde nie bepaal word deur my prestasies, my foute of wat ander mense van my dink nie. Help my om myself deur U oë te leer sien. Waar ek myself afbreek, gee my genade. Waar ek myself verwerp, herinner my aan U liefde. Help my om te glo dat ek aan U behoort. Amen.