Tema: Dink aan dit wat voorlê – Hoopvolle denke
Bybelteks: Jeremia 29:11
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”
Ons gedagtes kan vassteek by die verlede: As ek maar net …
Of by die hede: Ek kan dit nie hanteer nie.
Die lewe is nie altyd maklik vir God se kinders nie. Ons word nie van al die seerkry van hierdie wêreld gespaar nie. Jesus het ons hierop voorberei toe Hy gesê het dat ons bereid moet wees om onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom te volg (Matteus 16:24–25).
Maar God herinner ons daaraan dat ons verhaal nie by vandag eindig nie. Ons het ’n wonderlike toekoms wat vir ons wag saam met die Here. Daarop kan ons ook ons gedagtes rig. Paulus het self hieroor geskryf:
“Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is” (Romeine 8:18–19).
Paulus gee ons die versekering dat dit wat ons in hierdie lewe beleef, nie opweeg teen die heerlikheid wat God in die toekoms vir sy kinders voorberei nie. Hy stel dit ook in 2 Korintiërs 4:17 so:
“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan gou verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”
Vandag mag baie moeilik wees, maar vandag is nie die einde van die pad nie. Hierdie moeilike tye is tydelik. Dit sal verbygaan. Die ewigheid saam met God lê voor, waar daar nooit weer pyn en lyding sal wees nie. Eendag sal God in die openbaar bekend maak wie sy kinders is. Daardie dag sal ons verstaan.
Ek weet nie wat môre bring nie, maar ek weet Wie môre in sy hand hou.
Here, ek weet nie wat môre vir my inhou nie, maar ek weet dat U reeds daar is. Wanneer ek bang is vir die toekoms, help my om op U te vertrou. Help my om nie vas te kyk teen wat agter my lê nie, maar met hoop vorentoe te kyk. Gee my die geloof om te sê: “Here, ek weet nie wat voorlê nie, maar ek weet Wie saam met my gaan.” Amen.