
Deur: Dr. Marius Breytenbach
Die antwoord op hierdie diepsinnige vraag het nie net Martin Luther se lewe ingrypend verander nie, maar ook die Christelike kerk aan die begin van die sestiende eeu getransformeer.
Martin Luther is op 10 November 1483 in Eisleben, Duitsland, gebore en reeds die volgende dag gedoop. In 1501 het hy sy studies aan die Universiteit van Erfurt begin, waar hy eers ’n baccalaureusgraad en daarna ’n meestersgraad verwerf het. Op aandrang van sy vader het hy in 1505 begin om regte te studeer. Maar op 2 Julie daardie jaar het ’n gebeurtenis sy lewe dramaties verander. Tydens ’n hewige donderstorm is hy deur vrees oorweldig. Die gedagte dat hy enige oomblik kon sterf en onvoorbereid voor God sou moes verskyn, het hom diep ontstel. In sy angs het hy uitgeroep: “Help my, Sint Anna! Ek sal ’n monnik word!”
So het sy pad na die klooster en uiteindelik die kerklike bediening begin. Die vrees wat hom daardie dag beetgepak het, het hom egter nie verlaat nie. Inteendeel, gedurende sy kloosterjare en teologiese studies het Luther ’n intense geestelike worsteling beleef. Dit was asof die duiwel hom voortdurend persoonlik aankla: Luther, wie dink jy is jy? Jy is ’n sondaar. Jy het soveel foute gemaak. Hoe kan jy ooit dink dat God jou sal aanvaar? Hoe kan jy seker wees dat God jou liefhet?
Hoe meer Luther probeer om deur gebed, studie, vas en bieg nader aan God te leef, hoe meer bewus word hy van sy eie sondigheid. Selfs die strengste godsdienstige dissipline kon hom nie die innerlike vrede gee waarna hy gesmag het nie. Dit het hom telkens voor dieselfde allesoorheersende vraag te staan gebring: Waar vind ek ’n genadige God?
Mettertyd het Luther die antwoord ontdek, nie in sy eie godsdienstige prestasies nie, maar in God se belofte. Dit word treffend saamgevat in die bekende woorde wat met hom verbind word: “Baptizatus sum!” — “Ek is gedoop!” Daarmee het Luther uitdrukking gegee aan die oortuiging dat sy sekerheid nie berus op hoe goed hy is of hoe sterk sy geloof op ’n bepaalde oomblik voel nie, maar op die belofte van God wat in sy doop aan hom toegesê is.
Op ’n manier wat aan Paulus herinner, het Luther ’n ingrypende geloofsverandering binne sy eie godsdienstige tradisie beleef. Terwyl hy as professor in teologie aan die Universiteit van Wittenberg die Bybel bestudeer het, het Paulus se woorde in Romeine 1:16–17 op ’n nuwe manier tot hom deurgedring:
“Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot die redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.”
Wat Luther so lank gevrees het, het nou vir hom die bron van sy bevryding geword. Hy het ontdek dat God se geregtigheid nie bloot beteken dat God die sondaar oordeel nie, maar ook dat God die sondaar uit genade, deur geloof in Christus, regverdig verklaar. Die genade waarna hy so lank gesoek het, was nie iets wat hy deur sy eie pogings moes verdien nie. Dit was ’n geskenk wat hy uit God se hand kon ontvang.
Tog het Luther toenemend besef dat die kerk van sy tyd nie altyd hierdie bevrydende boodskap van genade weerspieël het nie. Dit het aanleiding gegee tot sy kritiek op bepaalde kerklike praktyke en die hervormingspogings wat vanaf 1517 tot die Reformasie sou lei.
Luther se verhaal help ons vandag om die kerklike tradisie waarvan ons deel is, beter te verstaan. Maar dit spreek ook op ’n besondere manier tot ons eie lewe. Ons leef immers in ’n wêreld van voortdurende druk, verwagtinge en prestasie. Ons word maklik vasgevang in die gedagte dat ons waarde bepaal word deur wat ons bereik, hoe goed ons presteer en of ons aan ander se verwagtinge voldoen. Selfs in ons geloofslewe kan ons begin dink dat ons God se liefde en aanvaarding moet verdien.
Juis daarom bly Luther se ontdekking so betekenisvol: God se genade is nie iets wat ons moet verdien nie. Dit is iets wat ons ontvang. En wanneer ons hierdie genade ontvang, laat dit ons nie onveranderd nie. Dit bring vernuwing in ons lewe.
Dit sluit besonder mooi aan by eerskomende Sondag se doop en die tweede tema van ons preekreeks: Ons ontvang God se vergifnis.
Dit is egter nie goedkoop genade nie. Dit vra dat ons eerlik met ons eie gebrokenheid en sondigheid omgaan. Soms worstel ons, soos Luther, om werklik te begryp hoe groot en oorvloedig God se vergifnis is. Maar wanneer hierdie genade tot ons deurdring, wek dit dankbaarheid en vernuwing. Ons word nie deur God aanvaar omdat ons reeds verander het nie. Ons word deur sy genade aanvaar, en juis daarom begin ons verander. Dit is die wonder van God se vergifnis: sy genade kom eerste, en uit die oorvloed daarvan groei ’n nuwe lewe wat vrug dra in liefde.