Feesmark: Kuns uit Leeu-Gamka

Waar vind ek ‘n genadige God? Ons ontvang God se vergifnis
Degnos-nuus

Ons is opgewonde om Elcado Blom, van Leeu-Gamka se kuns by die feesmark te verwelkom.  Elcado is ‘n kunstenaar gevestig in die Karoo wat hoofsaaklik in olieverf skilderye van stillewes en die Karoo-landskap skep.  Gebore in Leeu-Gamka, het hy op sewe begin teken en sy eerste skildery op veertien voltooi.

Nadat hy die skool vroeg verlaat het weens persoonlike omstandighede, het hy voortgegaan om sy kuns onafhanklik te ontwikkel deur daagliks te skilder en te teken.

‘n Bepalende oomblik het in 2019 gekom toe hy ‘n driejaar lange mentorskap onder leiding van die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Louis Jansen van Vuuren begin het – ‘n ervaring wat hy as ‘n groot eer beskryf.

“Stellenberg-Gemeente is al vir jare betrokke by die gemeenskap van Leeu-Gamka,” sê ds. Marius Schoombie.  “Voor ek Elcado as ’n kunstenaar leer ken het, het ek hom geken as iemand met ’n passie om ’n verskil in sy gemeenskap te maak en die jeug te inspireer om ’n beter toekoms vir hulself te verseker.

“Elcado is ’n nederige, liefdevolle mens wat die mooi in die lewe raaksien en dit vasvang deur kuns en fotografie. Deur sy kuns maak Elcado Leeu-Gamka ’n mooier plek.

“Indien jy sy kunswerke koop, investeer jy in ’n besonderse kunstenaar afkomstig uit ’n klein dorpie met mooi mense!”

NS | Elcado se skilderye word in die ou restaurant saam met Fairview-landgoed se deli-produkte uitgestal.  Skilderye wissel tussen R600 en R1 750.