Hartlik welkom aan Andries en Tracey Gouws, betrokke by die Degnos-bediening in Namibië, wat vanoggend by ons erediens aansluit. Andries en Tracey behartig die bediening aan die Boesman-gemeenskap in Grootfontein, Namibië.
Gemeentelede word uitgenooi om na die erediens saam met Andries en Tracey te kuier. Vra hulle gerus uit oor hulle werksaamhede, uitdagings, asook die seën wat hulle bediening beleef.
Andries deel graag ‘n bietjie meer nuus oor hulle interessante bediening:
“Die Here is getrou en werk steeds in sy koninkryk, selfs terwyl ons op reis is!
1. OMATAKO-NUUS
Die werk staan natuurlik nie stil terwyl ek en Tracey op reis is nie!
Ds. Jafet Moyo berig uit Omatako dat die biduurgroep ’n besoek aan die !Kandu-habitat, ongeveer 15 km daarvandaan, gebring het. Wat daar gebeur het, kan ons net as ’n wonderwerk beskryf!
Ds. Jafet vertel dat in ’n gemeenskap waar mense elke Sondag kerk toe gekom het, maar steeds vir mekaar kwaad was, het daar tydens Saterdagoggend se byeenkoms ’n besondere beweging van bekering plaasgevind. Mense het mekaar om vergifnis gevra en versoening met mekaar gesoek en hulself weer opnuut toegewy aan die Here Jesus.
Dit is wonderlik om te sien hoe die Here harte verander en mense met mekaar versoen!
Die gemeenskap is onlangs ook diep geraak deur die skielike en onverklaarbare dood van die 24-jarige seun van Johannes, een van DEGNOS se onderwysers.
Verder berig ds. Jafet dat die Sondagskoolkinders, onder leiding van ousie Ivette – ’n evangelisasie-uitreik na die koshuisleerders by die skool op Omatako onderneem het.
Dit was ’n groot sukses!
🙏 Bid asseblief:
• Dat die Here die werk van versoening in !Kandu sal versterk en laat groei.
• Vir Johannes en sy familie in hierdie moeilike tyd.
• Dat die kinders se harte deur die evangelie aangeraak sal word.
2. SKOOLBESOEK DEUR DIE JEUGWERKERS
Ongeveer twee weke gelede het ons gevra dat julle voorbidding doen vir die skoolbesoeke deur die jeugwerkers van CEF en DEGNOS.
’n Hele aantal skole is besoek, en volgens CEF se statistiek is meer as 2 300 kinders gedurende die week met die Goeie Nuus van Jesus Christus se geboorte bereik! 🌟
🙏 Baie dankie dat julle saam met ons gebid het!
Hou asseblief aan om vir die span jeugwerkers te bid. Bid dat die saad van die evangelie wat gesaai is, vrug sal dra en dat baie kinders Jesus Christus sal leer ken.
Ons kon heerlik saam met Ds. Lucas van Vuuren kuier en saam beplan aan studiemateriaal oor die Twaalf Artikels en die Gereformeerde leer oor die sakramente.
Soos altyd was die gesprekke met Ds. Lucas baie stimulerend. Hy het ’n diep liefde vir die Skrif, vir God en vir die mense wat ons by DEGNOS bedien. Ons is dankbaar vir sy betrokkenheid en die waardevolle bydrae wat hy lewer.
🙏 Gebedsversoeke:
• Bid asseblief vir Ds. Lucas, wat baie sukkel met sy ooggesondheid. Bid dat die Here sy oë sal aanraak en verligting sal bring.
• Bid dat die skryfwerk aan die studiemateriaal vlot en maklik sal verloop, sodat ons goeie gehalte materiaal kan ontwikkel wat by ons studente se konteks pas.
BAIE DANKIE VIR JULLE MEELEWING!
Dankie dat julle saam met ons bid, ons ondersteun en deel in die werk van die Here onder die gemeenskappe in die noordooste van Namibië.
Ons is dankbaar dat ons nie hierdie pad alleen stap nie. Saam mag ons die evangelie uitdra en sien hoe die Here mense se lewens verander.