God kan ons voortdurend hernuwe

Degnos-nuus

Deur: Dr. Marius Breytenbach

Was die Reformasie aan die begin van die sestiende eeu die ontstaan van ’n nuwe kerk? Waar het hierdie beweging begin, en wat beteken dit vir ons om vandag deel van die gereformeerde kerktradisie te wees?

Die gelowiges wat betrokke was by die beweging wat later as die Reformasie bekend sou staan, het aanvanklik nie beoog om ’n nuwe kerk te stig nie. Dit was eerder ’n tyd waarin mense God se aard en karakter opnuut ontdek het, te midde van die uitdagings en omstandighede van hul eie tyd. Hulle het opnuut begin vra wie God werklik is en wat dit beteken om in ’n verhouding met Hom te leef. Die Reformasie het dus as ’n hervormingsbeweging binne die bestaande Westerse kerk begin, maar uiteindelik tot ingrypende veranderinge in die Christendom gelei.

Die begeerte na hervorming het egter nie eers in die sestiende eeu ontstaan nie. Reeds gedurende die Middeleeue was daar mense wat die kerk tot vernuwing opgeroep het. John Wycliffe (ca. 1330–1384) het die gesag van die Bybel beklemtoon en kritiek gelewer op die rykdom en mag van die kerklike hiërargie. Hy het ook die beskikbaarstelling van die Bybel in die volkstaal bevorder. Die Tsjeggiese hervormer Jan Hus (ca. 1372–1415) het kerklike misbruike veroordeel en beklemtoon dat Christus, en nie die pous nie, die ware hoof van die kerk is. Sy oortuigings het hom uiteindelik sy lewe gekos toe hy in 1415 op die brandstapel tereggestel is. Desiderius Erasmus (ca. 1466–1536) het op sy beurt gepleit vir die morele en geestelike vernuwing van die kerk. Sy uitgawe van die Griekse Nuwe Testament in 1516 het ’n belangrike bydrae gelewer tot die herontdekking en bestudering van die oorspronklike Bybeltekste.

Verskeie omstandighede het daartoe bygedra dat die Reformasie aan die begin van die sestiende eeu soveel momentum gekry het. Daar was toenemende ontevredenheid oor bepaalde praktyke binne die Westerse kerk, wat destyds grootliks onder die gesag van die Rooms-Katolieke Kerk gestaan het. Die rykdom en magsmisbruik van sommige kerkleiers, die verkoop van kerklike ampte en ander wanpraktyke, het al hoe meer kritiek ontlok.

Een van die praktyke wat besonder sterk onder skoot gekom het, was die aflaatstelsel. Volgens die Rooms-Katolieke leer word die skuld van sonde deur God vergewe wanneer ’n mens opreg berou toon en vergifnis ontvang. Daar is egter geleer dat selfs ná vergifnis nog tydelike gevolge van sonde kan oorbly waarvoor boetedoening of geestelike suiwering nodig is. Die vagevuur is verstaan as ’n toestand van suiwering ná die dood vir mense wat in God se genade sterf, maar nog nie volkome gereinig is nie.

’n Aflaat (indulgentia) het betrekking gehad op die kwytskelding van hierdie tydelike straf vir sondes waarvan die skuld reeds vergewe is. Aflate kon onder bepaalde voorwaardes verkry word deur onder meer gebed, boetedoening, pelgrimstogte, liefdadigheid en ander voorgeskrewe geloofshandelinge. In sekere omstandighede is geldelike bydraes ook daarmee verbind. Dit het tot ernstige misbruike aanleiding gegee, veral waar die indruk geskep is dat mense hulle eie of ander se tyd in die vagevuur kon verkort.

Dit was juis teen hierdie agtergrond dat Martin Luther in 1517 sy 95 stellings oor die aflaatpraktyke bekend gemaak het. Sy kritiek het uiteindelik tot ’n veel dieper teologiese herontdekking gelei: God se genade kan nie gekoop of deur menslike prestasie verdien word nie. Dit is ’n gawe wat ons deur geloof in Jesus Christus ontvang. Hierdie insig het nie net mense se verstaan van die kerk verander nie, maar ook hulle verhouding met God. Waar geloof dikwels deur vrees, skuld en onsekerheid gekenmerk is, het die hervormers opnuut die bevrydende betekenis van God se genade beklemtoon.

Die ontwikkeling van die boekdrukkuns het ’n deurslaggewende rol gespeel om hierdie nuwe insigte te versprei. Johannes Gutenberg se ontwikkeling van drukwerk met beweegbare metaalletters omstreeks 1450, het dit moontlik gemaak om boeke en ander geskrifte vinniger en goedkoper te vervaardig. Luther se geskrifte kon gevolglik binne ’n betreklik kort tyd oor groot dele van Europa versprei word. Die Bybel, wat voorheen vir baie mense moeilik bekombaar en duur was, het mettertyd ook meer toeganklik geword. Vertalings in die volkstale het dit vir al hoe meer gelowiges moontlik gemaak om self die Bybel in hulle eie taal te lees.

Die Renaissance het eweneens ’n belangrike invloed op die Reformasie gehad. Humanistiese geleerdes het die ideaal van ad fontes — terug na die bronne — beklemtoon. Deur die Bybel opnuut in sy oorspronklike Hebreeuse en Griekse tale te bestudeer, kon gevestigde kerklike interpretasies krities ondersoek word. Dit het die weg gebaan vir ’n herwaardering van die Bybel as die grondslag van die kerk se geloof en lewe.

Uit die gereformeerde tradisie het daar mettertyd ’n besondere uitdrukking na vore gekom, wat hierdie voortdurende behoefte aan vernuwing saamvat: Ecclesia reformata, semper reformanda secundum verbum Dei — die hervormde kerk moet voortdurend volgens die Woord van God hervorm word. Hoewel hierdie formulering eers ná die sestiende-eeuse Reformasie gestalte gekry het, verwoord dit iets wesenliks van die hervormers se geestelike erfenis.

Daar is immers ’n belangrike verskil tussen verandering en hervorming. Verandering beteken bloot dat iets anders word. Hervorming beteken dat iets opnuut gevorm word om nader te kom aan wat dit behoort te wees. Dit gaan dus nie bloot daaroor dat die kerk meer modern, aantreklik of doeltreffend moet word nie. Die vraag is veel dieper: Hoe kan ons, binne die omstandighede en uitdagings van ons eie tyd, al hoe meer getrou leef aan Jesus Christus en sy evangelie?

Maar hierdie vraag is nie net aan die kerk as instelling gerig nie. Dit raak ook elkeen van ons persoonlik. Want as die kerk voortdurend hervorm moet word, geld dit tog ook vir die mense wat deel van die kerk is. Ons geloof is immers nie ’n afgehandelde saak nie. Ons verstaan nie reeds alles van God nie, en ons het ook nog nie geword wie God ons bedoel om te wees nie.

Miskien is dit juis hier waar die beeld van die Pottebakker in Jeremia 18 vir ons nuwe betekenis kry. Soos klei in die hande van die pottebakker bly ons mense wat deur God gevorm en hervorm kan word. Ons denke, ons gesindhede, ons verhoudings en selfs ons verstaan van God kan voortdurend vernuwe word. Die vraag is daarom nie net of ons bereid is dat die kerk moet verander nie, maar ook of ons bereid is om self deur God hervorm te word.