Dagstuk | Donderdag 12 November 2026

Dagstuk | Woensdag 11 November 2026
Dagstuk | Vrydag 13 November 2026

Hierdie week word ons genooi om te vra hoe God ons vorm.

Eksodus 20:4

Jy mag nie vir jou ‘n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie

Hierdie gebod word algemeen geïnterpreteer as: Jy mag nie ’n ander afgod maak om te aanbid nie, omdat jy die Here alleen moet aanbid. Maar later in die verhaal word dit duidelik dat die gebod ook beteken jy mag nie ’n afbeelding van God maak nie. Waarom sou God so sterk verbied dat mense afbeeldings van Hom maak?

In Genesis 1:26 lees ons: “God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding…”

Eksodus 20 gebruik hierdie presiese woorde. Die rede hoekom ons nie ons eie God mag afbeeld nie, is omdat die mens reeds God se afbeelding is. Ons is gemaak, gevorm in God se beeld.

Wanneer ons dus God probeer afbeeld as iets anders, vergeet ons ons eie identiteit as beeld van God. Daar is ook ’n gesegde wat lees: ‘die dinge wat ons doen, doen iets aan ons’. Eers vervorm ons vir God om ’n ander vorm aan te neem en dan vorm daardie beeld ons om iets anders as die beeld van God te wees. Wanneer ons gode van mag, geld, sukses of status maak, begin daardie dinge ons vorm. Ons word al meer soos dit wat ons aanbid.

Die goeie nuus van Genesis is dat God ons geskep het om iets anders te weerspieël. Ons is gemaak om God se liefde, geregtigheid, genade en omgee sigbaar te maak in die wêreld. Ons is reeds gevorm in die beeld van God.

As jy die afbeelding van God wil sien, kan jy net in die oë van jou naaste kyk.

Die teks herinner ons dat ons moet word wat ons reeds is. Moenie jouself laat vorm na die beeld van iets anders as God nie, want jy is reeds God se afbeelding.

Dink vandag verder:

  • Watter “afgode” of waardes probeer jou lewe vorm?
  • Hoe lyk dit prakties om God se beeld in jou daaglikse lewe te weerspieël?
  • Waar sien jy dat God jou hervorm na sy Beeld?

Gebed

Skepper-God, dankie dat U my na u beeld gemaak het. Vergewe my wanneer ander dinge my vorm en my aandag opeis. Vorm my deur u Gees, sodat my lewe iets van u liefde, geregtigheid en genade in die wêreld sigbaar kan maak. Laat ek nie my eie beelde van U skep nie, maar self ‘n getroue weerspieëling van U beeld wees. Amen.