Dagstuk | Donderdag 19 November 2026

Dagstuk | Woensdag 18 November 2026
Dagstuk | Vrydag 20 November 2026

Ons tema vandag is: God versorg deur ryp, een van die groot vyf van die Klein-karoo.

Tekslesing:    

Jesaja 38: 28-29: “Het die reën ‘n vader? Wie het die doudruppels in die wëreld gebring?  Wie bring die ys te voorskyn? Wie bring die ryp in die wëreld?” 

Ryp en sneeu maak organismes dood in die winter, goggatjies wat te veel bedreiging sou inhou vir die plante se nuwe lewe in die lente en somer.  Die organismes wat die lewe van die plante bedreig word uitgedun deur die ryp.  Goeie ryp in die winter verminder die boere se gifstofrekening in die somer dramaties.  Dit help veral die al groter wordende getal boere wat goggas te beheer deur organies te boer.

God sorg ook waar ryp nie net versorg nie, maar ook skade bring.  Oktobermaand se ryp is goed vir goggabeheer, maar gevaarlik vir jong ontluikende bot-ogies aan bome en wingerde.  Gesnoeide wingerdlote het slaap-ogies teen die stam wat slegs geaktiveer word indien die ander bot-ogies doodgebrand word deur die gevreesde, ontydige Oktober-ryp.  So sorg God vir die voortbestaan van die wingerd ten spyte van groot skade. Die groot vyf van die Klein-Karoo is gevaarlike kragte, maar saam met die dood wat dit bring, kom daar versorging wat die skepping altyd weer laat voortgaan.

Die Heilige Gees is soos ryp, om peste soos selfsug, onreg, jaloesie, haat, wraaksug, bitterheid en twisgierigheid te bestry en dood te maak.  Kom ons bid, kom ons gee onsself, kom ons werk saam met die Gees soos goeie boere, om die peste te bestry wat so wriemel hier binne in ons, peste wat die lewe vir mekaar swaar maak en selfs vernietig.

Gebed.

Ons Vader wat in die hemel is, dankie vir die goeie gawe van ryp in die wintermaande.  Ons bid vir almal wat skade lei deur ryp en ander natuurkragte. Help ons om u wysheid vir die natuur te kan verstaan en met waardering daarbinne te leef. Dankie vir u ewige versorging in Christus, selfs deur die dood heen.

Vernuwe ons, werk soos ryp in ons is, help ons om die peste van selfsug en eersug te kan doodmaak.   Amen.

Môre praat ons oor vuur, een van die groot vyf van die Klein-karoo.  Goed gaan vriende.