Dagstuk | Vrydag 20 November 2026

Dagstuk | Donderdag 19 November 2026

Ons tema vandag is: God versorg deur hael, een van die groot vyf van die Klein-karoo.

Tekslesing:    

Psalm 147:16-19: “Hy gee sneeu so wit soos wol, Hy strooi ryp uit soos as, Hy laat dit haelstene reën. Wie is bestand teen die koue wat Hy stuur? Maar op sy bevel smelt alles weer; as Hy die warm wind laat waai, dan loop die waters. Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel.”

Hael is een van die groot vyf van die Klein-karoo.  Maar hoe dien dit tot versorging in die skepping? Oor hierdie vraag het ek gewonder, tot ‘n boer wat op die karoovlakte met skape boer eendag vir my sê:  “En het ons toe nie ‘n lekker haelbui gehad nie!”  Hy verduidelik toe aan my:  Hael slaan die ou, harde karoo-bosse flenters. Dit breek die harde hout oop, vir die onderliggende groen lewe om te kan uitloop.  Hael help om die karoo-bosse te laat bly lewe.

Onthou jy nog hoe jy jou rose en ander plante se ou hout met ‘n snoeiskêr moes terug snoei in die winter, om kragtige nuwe lewe te laat uitspruit in die lente?   Hael is die snoeiskêr van die karoo-bosse.  God se Woord is die snoeiskêr van ons harde harte.  Die Here snoei in sy skepping met hael, en in ons harte en lewens met sy Woord, ter wille van die uitspruit van nuwe lewe. Aanvaar maar goed bedoelde vermaning. Dis goed vir nuwe lewe in jou.

Kom ons eer God as gewer van hael wat nuwe lewe bring vir die harde, ou karoobosse.  Kom ons bid ook vir hulle wat skade ly waar die hael val op vrugtebome, mens en dier,  en ander kosbaarhede.

Gebed.

Versorgende Vader, dankie vir die hael ter wille van die lewe van die Karoo-bosse en ander plante in u skepping.  Breek ook ons harde harte oop deur U Woord en Gees, waar nuwe lewe moet uitspruit.  Maak ons oop vir noodsaaklike vermaning en snoeiwerk in ons lewens.

Ons bid ook vir hulle wat skade ly waar hael val. Gee dat dit nie sal verhard nie, maar juis benut sal word as tye van vernuwing.  Amen.

Môre praat ons oor vuur, een van die groot vyf van die Klein-karoo.  Goed gaan vriende.