Dagstuk | Vrydag 14 Junie 2024

Dagstuk | Donderdag 13 Junie 2024
Dagstuk | Saterdag 15 Junie 2024

Vandag is Vrydag 14 Junie en ek verwelkom jou by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit Pinkstertyd te leef. Ons is nou al drie weke na die Pinksterfees geleentheid, maar tog leef ons elke dag vanuit daardie krag om ook op praktiese maniere hande en voete te wees binne die nuwe kerklike seisoen wat ons koninkrykstyd noem. Die uitnodiging aan ons bly dus steeds om vanuit die krag van die Gees te leef.

Een van die eerste beginsels wat ons met ons geloof bely is dat, net soos wat Jesus God se versoening vir die ganse mensdom is, só is die Heilige Gees vir die ganse wêreld gegee. Ons weet mos vanuit Johannes 3:16 dat God die wêreld liefhet, en daarom is Jesus as God se genadegeskenk na die wêreld gestuur! Dit is nie God se wil dat die wêreld verlore moet gaan nie.

Romeine 15:13 “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”

Remeine 5:5 “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”.

Mag ons dus vashou aan hierdie lewende hoop wat binne ons leef. ’n Vaste hoop wat nie van ons weggeneem kan word nie. Glo dit, bely dit, vertrou dit!

GEBED:

Heilige Gees, ek bely dat ek ook soms verdelend en verwarrend werk. Help my om met die krag van die Gees te getuig van ’n God wat ons liefhet. Amen.