Dagstuk | Saterdag 15 Junie 2024

Dagstuk | Vrydag 14 Junie 2024
Dagstuk | Maandag 17 Junie 2024

Vandag is Saterdag 15 Junie en ek verwelkom jou by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit Pinkstertyd te leef. Ons is nou al drie weke na die Pinksterfees geleentheid, maar tog leef ons vanuit daardie krag elke dag om ook op praktiese maniere hande en voete te wees binne die nuwe kerklike seisoen wat ons noem koninkrykstyd. Die uitnodiging aan ons bly dus nogsteeds om vanuit die krag van die gees te leef.

Vandag sluit ons af om mekaar te herinner dat ons een God aanbid, ons Skepper.  Dit is nie ‘n “afwesige” God-Skepper nie; dit is ‘n liefdevolle, versorgende God – vandaar dat ons God, “Ons Vader” noem.  Maar hoe het ‘n mens ‘n verhouding met Iemand – al noem jy Hom “Vader” – wat jy nooit kan sien nie?  Dit is presies wat Filippus ook wou weet in Johannes 14 – daarom vra hy in vers 8: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg”.  Jesus se antwoord is betekenisvol: “Wie My sien, sien die Vader.” Daarom word Jesus die “Seun van die Vader” genoem:  Hy is m.a.w. die “ewebeeld” van die Vader. Sien jy Jesus se optrede, dan weet jy hoe God, die Vader, is. Maar nou sit óns met ‘n probleem: hoe kan óns (ek en jy) wat 2000 later leef, vir Jesus sien, as Jesus net vir 33 jaar lank die aarde bewoon het?  Daarom sê Jesus:

“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees…”

In die Drievuldigheid van God is niks eerste of laaste nie, niks meeste of minste nie, maar al die drie persone is onderling volkome aan mekaar gelyk. Die Een kan nie sonder die Ander nie. Om deur die gees te leef is om in ontmoeting met hierdie lewende God te wees en te leef. Mag ons in hierdie koninkrykstyd opnuut ontdek wat dit beteken om gelei te word deur die Gees van God om sodoende ’n verskil in die wêreld te maak. Mag ons leer om te dans saam met die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

GEBED:

Here, dankie dat ek U kan leer ken op hierdie Drievuldige wyse. Leer my U wil Heer en mag ons aanhou dans, speel, lag en rus in U groot genade. Amen.