Dagstuk | Woensdag 19 Junie 2024

Dagstuk | Dinsdag 18 Junie 2024
Dagstuk | Donderdag 20 Junie 2024

Ons is die week besig met die tema: Om deel van ‘n gemeente te wees beteken om . . .  vandag voeg ons by: om te vertel.

 Teks: Lees Handelinge 8:26-40

GEDAGTE

Die gesprek tussen Fillippus en die Etiopiër moet ons lees teen die agtergrond van ‘n hewige vervolging van die gelowiges in Jerusalem. Filippus self beland in Samaria en begin die Evangelie daar verkondig. Dan beskik die Here die gebeure van Hand. 8:26-40. Wat so interessant is van die gebeurtenis is juis hoe hierdie twee karakters van mekaar verskil. Die een ‘n skatryk regeringsamptenaar en die ander een ‘n arm volgeling van Jesus.

Filippus se intree-vraag is: “Verstaan jy wat jy lees?”. Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” Filippus klim saam met die amptenaar op die wa en begin ‘n lewensveranderende reisgesprek met die amptenaar.

Ek is daarvan oortuig dat ons as Christene met die oplossing vir hierdie land sit, maar die hartseer is ons deel nie hierdie oplossing met ander nie. En dit het my sommer ook weer laat dink aan dit wat Paulus in Rom. 10:14 skryf, waar hy vra: “Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?  En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?  En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?”  Die Here werk op wonderbaarlike maniere in mense se lewens. Slegs Hy kan mense se harte en optrede verander. Maar die Here wil dit deur my en jou doen. Ons is die Filippusse in hierdie dorp. Is jy bereid om te vertel?

GEBED

God van tweede kanse en oor begin,

dit verstom my altyd weer dat u kies om my in u koninkryk te gebruik.

U gebruik my soos ek is: onvolmaak, met foute,

gewoon, en soms geneig om nie my beste te gee nie,

geneig om foute te maak, om te struikel en te val.

Maar u genade is altyd groter as my foute en mislukkings.

Dankie, o Here, dat U my gebruik ten spyte van myself!

Volmaakte God, herinner my gereeld dat, in u oë, mislukkings nooit finaal is nie.

U genade stel my in staat om met my mislukkings konstruktief om te gaan en met ander se foute geduldig te wees. Laat dit so wees.  Amen.”