Dagstuk | Maandag 1 Julie 2024

Dagstuk | Saterdag 29 Junie 2024
Dagstuk | Woensdag 12 Junie 2024

Goeiedag, vandag is Maandag 1 Julie en hierdie week gaan ons ’n bietjie gesels oor die feit dat ek en jy, beide geroep is as God se Kinders.

Baie van ons ervaar tans seer, pyn of lyding. Ons is dalk hartseer omdat ons iemand baie na aan ons verloor het, of ons is dalk bekommerd oor ons toekoms of die toekoms van die land of wroeg met finansiële spanning. ’n Mens wonder dikwels waar God in al hierdie gebeure van ons lewens is en hoe jy deur al die seer en spanning gaan kom, maar God beloof vir ons dat Hy ons nooit alleen laat nie. Dat Hy altyd langs ons loop, dat Hy in ons seer by ons is en dat Hy by ons is in ons bekomernisse. Hy los ons nooit alleen nie. Hy hou jou vas in die palm van sy hand.

Ons lees dit ook in die Bybel, waar God vir Isreal beloof dat Hy altyd by hulle sal wees. Kom ons lees Jesaja 43: 1-3: 1Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. 2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.

Die teks herinner ons dat net soos wat God by die Israeliete was, net so is Hy by my en by jou. God wil weet wat jou diepste seer is en Hy wil weet wat jou grootste bekommernis is, want Hy sal te midde van dit daar wees. Jy is sy kind en Hy gee om vir jou. In Koninkrykstyd nooi die teks ons ook dus uit om ander te ondersteun in tye van nood. Jy weet nooit of God jou gebruik om vir iemand anders ’n bron van hoop te wees nie. Ons moet bereid wees om instrumente vir God te wees ten spyte ook van ons eie bekommernisse en met God ’n pad stap en Hom daagliks ook vra waar jy vir iemand in nood kan bystaan.

Grace Fox sê: “We are in good hands, because we are in God’s hands”. Mag ons die week lewe en weet dat niks ons van die omgee en liefde van God kan skei nie en mag ons altyd onthou dat wanneer ons voel God is vêr van ons, dat ons sal besef dat HY langs ons loop en ons hand deur moeilike tye vas hou.

Gebed:

Dankie dat U vir ons, u kinders gemaak het. Dankie dat U vir ons sondes aan die kruis gesterf het sodat ons deel kan hê aan u Koninkryk. Here dankie vir alles  wat U vir ons doen. Dankie dat ons kan weet U ons nooit alleen sal laat nie. As ons deur moeilike tye gaan sal U ons nie los nie, U stap saam met ons. Here help my ook om die week nie net my seer met U te deel nie, maar ook om te kan dien as ’n instrument van hoop vir iemand anders in nood. Gebruik my om ander mense in nood by te staan.

Amen