Dagstuk | Saterdag 6 Julie 2024

Dagstuk | Vrydag 5 Julie 2024
Dagstuk | Maandag 8 Julie 2024

Goeiedag, vandag is Saterdag 6 Julie en in hierdie week gesels ons oor die feit dat ek en jy beide geroep is om as God se kinders te lewe.

Vandag gaan ons bietjie gesels oor dat ons ook geroep is om tyd te spandeer met God. Mattheus 11:29 se die volgende: Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.

Die teks herinner ons dat ons rus moet vind by God se voete. Dat ons met Hom moet tyd spandeer en van Jesus se hart moet leer, want dit sal ons help om ons  roeping op die aarde uit te leef.

Gebed:

Here, dankie dat ons die week saam kon leer dat U vir elkeen van ons ‘n roeping gegee het en dankie dat elkeen van ons U verteenwoordigers op aarde kan wees. Here help ons om dit uit te leef. Help ons deur nader aan U te groei dat ons ook nader aan mekaar groei en dus uitreik oor grense heen om u koninkryk op aarde te bou. Dankie dat U altyd spasie maak vir almal rondom u tafel. Help ons ook om ons tafel oop te stel vir almal en om u liefde, genade en respek by die werk, by die kerk of waar ons onsself ookal mag bevind, uit te straal.  Help ons om elke dag te onthou dat ons belangrik is vir U. Dat elkeen van ons ‘n belangrike rol speel om U Koninkryk te bou en dat elkeen van ons ook ‘n groot rol speel in die liggaam van Christus. Here dankie dat ons deur u genade kan deel hê aan u koninkryk en dat ons kan deel hê aan die liggaam van Christus.

Amen

Kom ons leef die week ons roeping uit en probeer oral waar ons gaan ons talente en gawes tot eer van God gebruik.