Dagstuk | Vrydag 31 Mei 2024

Dagstuk | Saterdag 1 Junie 2024
Dagstuk | Donderdag 30 Mei 2024

Sondag 19 Mei was Pinksterfees en met Pinkster het ons gefokus op hoe die Heilige Gees ons harte hervorm om meer soos Christus te wees en te verlang na God se Koninkryk. Hierdie week herbesoek ons die temas van Pinkster.

Deuteronomium 6:4-5

“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.

Refleksie

Ek was een keer, toe ek nog in Pretoria was, in gesprek met ’n Moslem oor sy geloof. En hy vertel my van die ritmes van sy dag, die 5 gebede wat hy elke dag bid en wat dit vir hom beteken om dit te doen en hoe belangrik dit vir hom is. En in ’n stadium sê hy vir my “ek het ’n hele klomp Christen vriende by die universiteit, maar ek kan nie sien wat maak hulle Christene nie. Sê vir my, wat doen Christene in julle geloof?” Hoe sal julle hom beantwoord? Wat doen Christene?

Dit was nie ’n baie maklike vraag vir my om te beantwoord nie. Dit gaan nie vir my daaroor om dinge te doen sodat ander mense kan sien ek is ’n Christen nie, dalk dit ook, maar dit is vir my meer ’n persoonlike vraag, watter ritmes en gewoontes is in jou dag ingebou, wat jou elke dag in jou geloof anker? Hoe herinner ons onsself aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens?

Eerstens moet ons oplet dat die klein dingetjies belangrik is. Die volgende paar versies sê: 6“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees. 9Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

Ons moet onsself herinner op die klein maniere en besef dat alles saak maak. Die manier wat ons opstaan en gaan slaap, die manier wat ons kos maak of hoe ons ons gemors hanteer, die manier wat ons skottelgoedwas of tuinmaak of ander mense hanteer, maak alles saak.

Iemand het gesê as jy wil leer om God lief te hê, moet ons dalk kleiner begin. Begin eers deur ’n klip te leer liefhê. Richard Rohr skryf hierop: “I encourage you to apply this spiritual insight quite literally. Don’t start by trying to love God, or even people; love rocks and elements first, move to trees, then animals, and then humans. How you do anything is how you do everything”

Tweedens, moet ons onsself herinner deur goeie gewoontes aan te leer. Vandag se gedeelte staan bekend as die Shema, ’n gebed wat elke Israeliet soggens en saans sou bid. Hoe sal dit jou vorm as jy elke dag begin en eindig met hierdie woorde? Dalk moet ons minder nuwe woorde probeer gebruik wanneer ons bid en meer gereeld bekende gebede bid wat ons harte vorm.

Soren Kierkegaard het gesê: “The function of prayer is not to influence God, but rather to change the nature of the one who prays.”

Mag die manier wat ons bid ook ons harte vorm om te verlang na God se koninkryk.

Ons word uitgenooi om die volgende gebed van Ignasius deur hierdie dag te bid.

Gebed

Neem, Here, en ontvang al my vryheid,

my geheue, my begrip,

en my hele wil,

Al wat ek het en my eie noem.

U het alles vir my gegee.

Aan U, Here, gee ek dit terug.

Alles behoort aan U; maak daarmee wat U wil.

Gee my net U liefde en U genade,

dit is vir my genoeg.

Amen