Dagstuk | Maandag 27 Mei 2024

Dagstuk | Dinsdag 28 Mei 2024
Dagstuk | Saterdag 25 Mei 2024

Sondag 19 Mei was Pinksterfees en met Pinkster het ons gefokus op hoe die Heilige Gees ons harte hervorm om meer soos Christus te wees en te verlang na God se Koninkryk. Hierdie week herbesoek ons die temas van Pinkster.

Filippense1:9

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,

Refleksie

Luister mooi na wat Paulus in vers 9 sê “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.” As ons vinnig lees dan kan dit lyk asof Paulus vir hulle bid dat hulle begrip, hulle kennis en fyn aanvoeling moet toeneem. Maar eintlik bid Paulus die teenoorgestelde. Dat hulle liefde al hoe meer sal toeneem, want in ’n sekere sin is liefde die voorwaarde vir kennis. Dit is nie dat ek weet om lief te hê nie, maar eerder dat ek lief het om te weet. As ons meer begrip en onderskeiding wil hê, sê  Paulus, moet ons begin deur na ons liefdes te kyk.

Richard Rohr het ’n sêding wat hy baie herhaal, wat ek verskriklik baie van hou: “We do not think ourselves into new ways of living, we live ourselves into new ways of thinking.” En soos spreuke vir ons sê, ons lewens word bepaal deur ons hart.

Die mens is nie in die eerste plek iemand wat dink nie, die mens is in die eerste plek iemand wat lief het. Die vraag is nie of jy lief het nie, die vraag is wat jy lief het. En dit is hoekom Paulus sê dat ons verhouding met God herstel word deur ons liefde wat gevorm word, wanneer hy ’n bietjie later sê: “en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”

Augustinus, een van die vroeë kerkvaders het dit soos volg gestel: “U het ons vir uself gemaak en ons hart is rusteloos tot dit rus vind in U.” Augustinus sê dat om mens te wees, beteken om onsself in God te vind, om in ’n verhouding te wees met die een wat ons gemaak het en die een vir wie ons gemaak is. Die evangelie is die manier wat ons leer om ten volle mens te wees. En daar is allerhande ander maniere wat ons kan leef, waarvoor ons ons hart kan gee, as waarvoor God bedoel het. Dit is net wanneer, soos Paulus sê ons in geheel en al in die regte verhouding met God is, wanneer ons hart in Hom rus, wat ons tot rus kom.

Wat dink jy is die verhouding tussen liefde en kennis? Hoe verander liefde die manier wat ons oor iets of iemand dink?

Hoe voel jou hart vandag? Voel jou hart onrustig, bang, onseker? Of voel jou hart tevrede en rustig? Hoe kan jy kan vandag ’n oomblik skep vir jou hart om nog meer tot rus te kom in God?

Gebed

Ons bid vandag die woorde van Paulus in Filippense 1:9-11:

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.