Dagstuk | Donderdag 23 Mei 2024

Dagstuk | Vrydag 24 Mei 2024
Dagstuk | Woensdag 22 Mei 2024

Teks: Spreuke 3:5-6. Vertroue volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is.

In vandag se oordenking praat die teksgedeelte in Spreuke met ons oor die onbekende van die toekoms en die manier waarop ons dit as gelowiges tegemoet gaan. Wie weet wat die toekoms vir ons gaan inhou? Ons probeer om die onbekende van die toekoms meer leefbaar te maak deur goeie beplanning. Ons dagboeke is gevul met afsprake en ons bedink planne hoe om dinge gedoen en afgehandel te kry. Ons doel is om by die toekoms wat ons beplan, uit te kom. Maar die toekoms is baie anders as wat ons beplan, wil kies, of soek. Vandaar die spanning van onsekerheid wat binne ons leef. Daar is ‘n aanhaling wat sê: Never be afraid to trust a unknown future to a known God.

Hoe die komende verkiesing ons land se toekoms en die lewens van mense daarbinne gaan raak is onbekend. Ons kan met voorspellings en scenario’s waag, maar niemand weet werklik nie. Wat beteken dit vir jou om jou toekoms – die spanning van die onbekende in vertroue in die Here se hande oor te gee? Die Bybelboek Habakuk vertel van gelowiges wat in enige toekoms kan leef. Al sou die vyeboom nie bod nie, en die olyfoes misluk, al sou daar geen beeste in die lande meer wees nie … nogtans sal ek in die Here jubel. Die Here my God gee my krag om dit reg te kry. Kan ons vandag oor ons toekoms juig?

Gebed

Hemelse Vader, ek loof en dank U vir die vrede van die nag. Ek loof en dank U ook vir die lig van elke nuwe dag… en vir al U goedheid en trou dwarsdeur my lewe. Here, U het my in die verlede so oorvloedig geseën, laat my ook nou die hardheid van die hede en die onbekendheid van die toekoms aanvaar. Laat my glo dat U nie méér op my sal lê as wat ek kan dra nie. Ek bly glo dat U vir my sorg en dat U alle dinge vir U kinders ten goede kan laat meewerk.

Amen.