Dagstuk | Woensdag 22 Mei 2024

Dagstuk | Donderdag 23 Mei 2024
Dagstuk | Dinsdag 21 Mei 2024

 

Teks: Klaagliedere 3:18. Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my as ek daaroor nadink, my gedagtes draai vas.

Gister se oordenking het met ons oor die verlede gepraat. Vandag se teksgedeelte bring ons by die realiteite van ons hede uit en die wyse waarop die Heilige Gees ons lei om dit te onderskei. Klaagliedere is geskryf vir mense wat met die belofte van Jeremia 29 geleef het waarin God sê:  “ek weet wat ek vir julle beplan, voorspoed en nie teenspoed nie”. Maar tans sit hulle en huil langs die riviere van Babel waarheen hulle weggevoer is. Hulle voel vasgevang in ‘n vreemde land, ‘n vreemde kultuur en godsdiens asook ‘n vreemde koning wat oor hulle regeer. Hulle kan nie sien hoe hierdie hede deel kan wees van God se voorspoed en plan om hulle te seën nie. Hulle probleem is dat hulle nog vashaak by die eng gedagte en verwagting dat die God van Israel vir  ‘hulle’ moet seën. Maar in die jare wat volg gebeur iets indrukwekkend. Deur praktiese ervaringe verander hulle belydenis van die God van Israel na die God van hemel en aarde; die God van die nasies. En stadig maar seker dring dit tot hulle deur dat God vreemde plekke in nuwe tuistes kan omskep. Hoe praat hierdie gedagte in Klaagliedere met ons oor ons land se hede en ons deelwees daarvan? Ons kan nog oor die land huil – oor die impak van die verlede en soos vreemdelinge gal en bitter braak. As ons ons geloof in God, die Almagtige Skepper van hemel en aarde, bely, dan word hierdie hede ook deel van ‘n tuiste wat God ons aanbied.

Gebed

Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde en genade my vandag so omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ‘n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my hoe ek ‘n rol kan speel om vandag die wêreld as ‘n plek van korrupsie, lyding en verganklikheid te transformeer tot ‘n plek van lig, vreugde, geduld en liefde. Maak my vandag gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe lewensmoontlikhede dat my lewe ‘n getuienis kan wees van U teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid. Amen.