Dagstuk | Maandag 20 Mei 2024

Dagstuk | Dinsdag 21 Mei 2024
Dagstuk | Vrydag 17 Mei 2024

Hoe het ons by hierdie hede uitgekom en waarheen is ons met hierdie hede op pad? Hierdie is ‘n vraag wat weer by ons opkom wanneer ons in hierdie jaar die 30 jarige demokratiese bestaan van ons land vier en oor ‘n week weer ons kruisie by die stembusse gaan trek. Wanneer ons oor die verlede, hede en toekoms nadink is dit met gemengde gevoelens. ‘n Mens is dankbaar vir die veranderinge wat ons gehelp het om mekaar se menswaardigheid te erken, maar in dieselfde asem (gedagte) is ons ook geïrriteerd, kwaad en gefrustreerd oor waar die hede ons uitgebring het en skepties oor dit wat nog op ons wag. In hierdie week se dagstukkies gaan ons dieper nadink oor die belofte van God se teenwoordigheid wat besig is om in ons verlede, hede en toekoms deur te breek en die plek van geloof waarby dit ons in hierdie week voor die verkiesing uitbring.

Teks: Hebreërs 13:8. Dink aan julle voorgangers wat die Woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid.

Ons teksgedeelte gaan oor ‘n tweede generasie Joodse gelowiges wat perspektief of uitsig op God se teenwoordigheid in hulle verlede, hede en toekoms verloor het. Dis nie dat hulle hul geloof prysgegee het nie, eerder dat hulle as gevolg van gedagtes, emosies, spanning en onsekerheid nie besef het hoe die Here hulle deur hierdie omstandighede gevorm het nie. Al wat hulle gesien het was die harde realiteite wat om hulle afgespeel het en waarin hulle vas gekyk het. En stadig maar seker het dit hulle uitsig op God, wat in tyd na hulle toe deurgebreek het, verduister.

Die lewe bring ons almal voor hierdie selfde uitdaging, veral in die lig van ons denke op die vooraand van ons land se verkiesing. Dit is nie ‘n kwessie dat ons opgehou het om te glo nie, maar eerder dat ons maklik fokus verloor hoe die Here deur ons verlede, hede en toekoms besig is om ons te vorm en hoe dit ons by ’n punt uitbring waar ons anders dink en reageer. Mag jy in hierdie week se oordenkinge opnuut die Here in jou verlede, hede en toekoms vind.

Gebed

O Here, almagtige God, Heerser oor die wêreld, selfs toe die aarde nog woes en vormloos was, was U die koning van die heelal, en wanneer alles wat bestaan tot ‘n einde kom, sal U nog steeds regeer. U die allerhoogste waartoe ons denke in staat is; niks kan U wese en wysheid ewenaar nie; daar bestaan niks wat met U vergelyk kan word nie. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Amen.