Dagstuk | Maandag 13 Mei 2024

Dagstuk | Dinsdag 14 Mei 2024
Dagstuk | Saterdag 11 Mei 2024

Dit is Maandag 13 Mei en in hierdie week is Pinkster en elke dag stap ons nader aan Pinksterfees, van komende Sondag. Die woord Pinkster is afgelei van die woord Pentecost, soos dit in Engels genoem word en wat vanuit Grieks as vyftigste, vetaal word. Die rede hiervoor is omdat die Pinksterfees, waar Jesus die Heilige Gees aan die mense uitgestort het, 50 dae na Paassondag plaasgevind het.  Van Ou Testamentiese tye af was wind en vuur as ’n simbool van God se teenwoordigheid gesien. Dink net terug aan God wat met Moses deur die brandende bos praat en die wolk en vuurkolom wat die Israelite uit Egipte na die beloofteland gelei het.

So hierdie week gaan ons bietjie fokus op wat dit vir ons beteken dat Jesus aan ons die Heilige Gees as geskenk gegee het en hoe moet ons dus lewe as mense wat die Heilige Gees in hul harte het.

Kom ons lees Handelinge 2:1 tot 4

Die uitstorting van die Heilige Gees

1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

Die teks vertel ons mee van hoe dit gelyk het toe die mense op Pinksterfees met die Heilige Gees vervul was. Dit verduidelik dat mense ’n geweldige stormwind gevoel het wat die vertrek gevul het en dat daar iets soos vuur op elkeen neergedaal het. Beide die vuur en die wind was in die Ou Testament ’n simbool van God se teenwoordigheid. God het besluit dat Hy ’n ruimte wil skep waar mense met Hom kontak kan maak en daarom het hy die Israeliete beveel om die Tabernakel te bou waar Hy dan toe in die vorm van ’n vlam verskyn het.  Maar Jesus het dit moontlik gemaak dat ek en jy nie meer na die tabernakel hoef te reis om met God te kontak te maak nie – ons kan nou omdat ons met die Heilige Gees gevul is, na mekaar toe draai en bymekaar iets leer van God se Koninkryk. Die Pinksterfees is ’n herhinnering dat God ons nooit alleen los nie en dat HY altyd hier binne ons harte en in die mense om ons se harte is. Die Pinksterfees is ’n herinnering dat ons werklik nader aan God kan groei, deur nader aan mekaar te groei en dus op so ’n manier saam met God sy Koninkryk op aarde bou.

Gebed:

Dankie Here dat U vir ons die Heilige Gees gestuur het. Dankie dat ons weet dat U altyd in ons harte is en ons nooit alleen los nie. Dankie dat ons na mekaar kan draai en van u Koninkryk kan leer. Here help my om die week wanneer dit moeilik gaan te weet dat U altyd by my is en dat ek medegelowiges het wat my ook kan bystaan.

Amen