Dagstuk | Donderdag 9 Mei 2024

Dagstuk | Vrydag 10 Mei 2024
Dagstuk | Woensdag 8 Mei 2024

Teks: Johannes 10:9

9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.

 GEDAGTE

Toe Jesus gesê het dat Hy die ingang is, het Hy bedoel dat Hy alleen die ware weg na die Vader is en dat die skape deur Hom na die Vader moes gaan. Hierdie ingang is soos ’n deurgang wat altyd oopstaan, maar wat tog die enigste ingang tot hierdie kraal is. Met hierdie woorde beklemtoon Jesus dit, dat daar geen ander manier is om redding te vind as deur Hóm nie.

Dit is vir Christus so ’n ernstige saak dat Hy, volgens die Griekse teks, by altwee geleenthede sê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek, is die ingang.” Die dubbele “amen” beteken: Dit staan vas, dit is werklik so. “Dit verseker Ek julle. . .”

Nie ander godsdienste nie, nie mense se goeie dade nie, nie ’n voorbeeldige lewe nie, nie kerklidmaatskap nie. . . of wat ookal, kan jou red nie. Christus se dubbele beklemtoning dat nét Hý die ingang is, trek ’n dik streep deur alle ander manière om die ewige saligheid te verkry.

God wil jou red, maar jy moet bereid wees om jou te laat red, deur in te gaan deur die ingang – Jesus Christus, self. Jesus sê: “As iemand deur My ingaan sal hy gered word.” Iemand wat deur Christus, die ingang, of toegang verkry het tot die kraal waarin God se kinders is, word nie net gered nie, maar ook bewaar. Jesus bring ons nie net veilig in die kraal nie, maar Hy beskut ons ook as ons reeds daarbinne is.

GEBED

Here ek bid vir alle mense wat nog nie die ingang gevind het na die ewige lewe nie. Mag U hulle genadig wees om dit te vind. Amen.