Dagstuk | Woensdag 8 Mei 2024

Dagstuk | Donderdag 9 Mei 2024
Dagstuk | Dinsdag 7 Mei 2024

Teks: Johannes 6:35

” 35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

 GEDAGTE

Hierdie teks vorm deel van die wonderwerk waar Jesus die brood en vissies vermeerder. Dis die bekende wonderwerk waar, kos vir die 5000 mense gegee word deur slegs vyf brode en twee vissies te vermeerder. Dit word in al vier Evangelies beskryf.

Waarom juis die wonderwerk? Vers 35 sê: Jesus het die mense liggaamlik gevoed, maar dis ’n teken/simbool dat Jesus die brood van die lewe is. Wat bedoel die Here? Ek is die brood van die lewe. In die Ou Nabye Ooste het brood veel meer beteken as vir ons. Vleis was ’n luukse. Brood was die kos en daarom was dit geïdentifiseer met lewe self. Jesus leer ons bid vir ons daaglikse brood. Brood omsluit alles wat ons nodig het om te lewe

Dink vir een oomblik saam aan al die betekenisvolle oomblikke in die Bybel wat rondom brood gehandel het. Ek dink aan die Eksodus gebeurtenis. Daar was hongersnood in hulle land en brood was broodnodig. En hulle migreer na Egipte as gevolg van ’n knellende droogte en  misoes. In die land van Farao is daar ’n oormaat in voorraad.

En later toe die Jode op pad was na die Beloofde land was hulle gekonfronteer met hongersnood in die woestyn. En vanuit die hemel laat God brood reën. Brood wat manna genoem was.

In die Nuwe Testament gaan ons saam met Jesus woestyn toe. Jesus begin met sy bediening en Hy word deur die duiwel beproef. Die duiwel versoek Jesus om die woestynklippe in brode te verander sodat Hy kan eet. Tog, weerstaan Jesus die versoeking en sê dat mens nie alleen van brood leef nie.

In die Onse Vader leer Jesus sy dissipels om te bid. “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Ook die aand voor die kruisiging.  Toe Jesus brood geneem en gebreek het en gesê het, dit is my liggaam, gebreek vir julle, tot ’n volkome versoening vir al julle sonde.

Brood is dikwels mense se grootste voedselbron. Wanneer Jesus Homself die Brood van die lewe noem, sê Hy vir ons dat Hy die Bron is van alles wat ons ooit mag nodig kry. Wanneer iemand die Brood van die lewe eet, wat eenvoudig beteken om in Hom as Verlosser te glo, word hulle weergebore. Hy stil dan hulle geestelike honger met Homself.

GEBED

Here gee my asseblief die brood van die ewige lewe.

Amen