Dagstuk | Donderdag 2 Mei 2024

Dagstuk | Vrydag 3 Mei 2024
Dagstuk | Woensdag 1 Mei 2024

Vandag is Donderdag 2 Mei en hierdie week is ons baie opgewonde om die bekende Hettie Brittz komende Sondagaand om 19:00 by Stellenberg-gemeente te ontvang met haar boek wat verwerk is met die tema: Kweek kinders met karakter. Dus is ons die week saam op reis opsoek na Bybelse waarhede en wyshede oor karaktervorming binne ons eie lewens.

Spreuke 15:1 “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam.” Wat beteken sag? Ons hou nie daarvan om sag te wees nie, ons sal eerder onsself regverdig. Dit is moeilik as iemand ’n onreg aan jou doen en dit is nog moeiliker om nie terug te veg nie. Om op woede met woede te reageer sal beslis dinge vererger. Ons moet mekaar en ons kinders leer om met wysheid te praat. ’n Sagte antwoord kan ’n groot verskil maak in ’n konfliksituasie en kan ’n karakter van selfbeheersing en respek toon.

Wysheid: ’n Krenkende antwoord is die wêreld se manier van doen. Die Here se manier – ’n sagte antwoord slaag.

Gebed: Here, gee ons en ons kinders die moed om te staan vir wat reg is, selfs wanneer dit moeilik is, maar op ’n gesonde manier. Help ons om nie voor druk te swig nie, maar om standvastig te bly in ons geloof en oortuigings. Amen.