Dagstuk | Dinsdag 30 April 2024

Dagstuk | Woensdag 1 Mei 2024
Dagstuk | Maandag 29 April 2024

Vandag is Dinsdag 30 April en hierdie week is ons baie opgewonde om die bekende Hettie Brittz komende Sondagaand om 19:00 by Stellenberg-gemeente te ontvang met haar boek wat verwerk is met die tema: Kweek kinders met karakter. Dus is ons die week saam op reis opsoek na Bybelse waarhede en wyshede oor karaktervorming binne ons eie lewens.

Matteus 7:12 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen”. Leer jou kind om ander te behandel soos hulle self behandel wil word. Dieselfde tel natuurlik vir ons as volwassenes ook. Deur liefde en respek aan ander te wys, kweek ons ‘n karakter van medelye en medemenslikheid. Die groei van ‘n heilige karakter vra egter toewyding en tyd en gebeur nie oornag nie. Wees dus geduldig met jouself en ander rondom jou wat dit nie altyd so maklik reg kry nie. Dit vra inoefening. Soos iemand sê: “Morals are caught and not taught.

Wysheid: Leef deur jou voorbeeld. Mense en veral kinders leer deur na te boots wat hulle sien. Wees ‘n rolmodel vir die eienskappe en gedrag wat jy wil hê hulle moet ontwikkel. Dit sluit in liefde, eerlikheid, respek en integriteit.

Gebed: Here, leer ons en ons kinders om geduldig te wees en om selfbeheersing te hê, veral in moeilike situasies. Help ons om te leer om te wag, om te luister en om met wysheid te reageer. Amen.