Dagstuk | Saterdag 20 April 2024

Dagstuk | Maandag 22 April 2024
Dagstsuk | Vrydag 19 April 2024

Hierdie week, in hierdie Paastyd, reis ons saam met die eerste gemeente in Handelinge

Handelinge 2:24-47

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Refleksie

Vertel en innooi

En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Dit is so mooi gestel dat die Here mense tot die gemeente bygevoeg het. Deur hierdie week het ons gehoor hoe die eerste gemeente eensgesind was, mededeelsaam en vrygewig was, hoe hulle op ’n diep manier saam gereis het en met blydskap en eenvoud geleef het. Hulle het die weg van Jesus gevolg en die waardes van die Koninkryk geleef. En elke dag het die Here mense bygevoeg. Ons kan aanneem dat die eerste gemeente ook mense gaan vertel het van Jesus – die verhaal van Handelinge vertel dit ook vir ons – maar die manier wat hierdie eerste gemeente geleef het, was opsig self ’n uitnodiging aan mense om deel te neem aan die Koninkryk van God en deel te word van ’n nuwe gemeenskap. Kerke is dikwels heel goed met die vertel deel. Ons gaan maklik uit op uitreik aksies en gaan vertel mense van Jesus. Maar ons sukkel dikwels meer met die innooi deel. Dit vra dat ons oop

moet wees vir mense om deel te word, mense wat dalk anders as ons lyk of praat of dink. Onderliggend is gasvryheid een van die belangrikste waardes wat sigbaar is in hierdie eerste gemeente

Aan die einde van hierdie week se refleksies word ons uitgenooi om so te leef dat ons lewe ’n uitnodiging is waarmee God mense tot die gemeente byvoeg. Mag ons so leef dat ons ander inspireer om deel te word van dít waarmee God besig is in die wêreld.

Gebed

Here God, dankie dat ons mag weet dat die kerk nie van ons afhang nie. U is die een wat uitnooi en deel maak. Maar U nooi ons ook uit om deel te neem daaraan en ’n gemeenskap te wees van eenvoud en liefde en gasvryheid, wat ander ook uitnooi om deel te wees. Mag ons so leef, dat ander vir U kan sien.

Amen.