Dagstuk | Woensdag 17 April 2024

Dagstsuk | Vrydag 19 April 2024
Dagstuk | Dinsdag 16 April 2024

Hierdie week, in hierdie Paastyd, reis ons saam met die eerste gemeente in Handelinge.

Handelinge 2:24-47

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Refleksie

Aanbid en loof

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom.

Vir hierdie radikale nuwe gemeenskap, wat op ’n heeltemal ander manier begin lewe het, was dit belangrik nog nog elke dag getrou by die tempel bymekaar te kom. Om saam te aanbid bly in die hart van enige gemeente en gelowige. Ons kan onsself indink dat dit nie noodwendig maklik was vir hierdie nuwe gemeente om aan te hou tempel toe gaan nie, aangesien die meeste van die mense by die tempel nie dieselfde oortuigings oor Jesus gehad het as wat hulle gehad het nie. Hulle het egter gekies om te bly, om saam met mense te aanbid wat ander dinge oor Jesus glo as hulle. Hulle het nie onttrek nie, maar saam aanbid. Dit is dalk juis deel van die rede hoekom gelowiges elke dag tot die gemeente gevoeg is. Vandag onttrek mense hulself maklik wanneer hulle nie kan saamstem met ander nie en vorm ’n klomp verskillende groepies wat almal soos ek dink en aanbid. Dalk inspireer hierdie eerste gemeente ons om deel te bly van die gesprek en saam met mense te aanbid wat selfs anders as ons glo.

Dalk inspireer dit ons ook om aanbidding die hart te maak van wat ons ook al doen. Maak nie saak hoe besig die lewe raak of hoeveel verskonings ons kan uitdink nie, dat ons sal moeite maak om tyd saam met God in aanbidding deur te bring – in ons eie lewens, maak ook saam met ander.

Gebed

Here God, dit is so mooi wanneer mense bymekaarkom om te aanbid. Mag u ons inspireer om saam met ander te aanbid, ook saam met mense wat dalk nie dieselfde oortuigings as ons het nie. Mag ons lewens ook aanbidding wees, met ons harte gerig op U.

Amen