Dagstuk | Saterdag 30 Maart 2024

Dagstuk | Maandag 1 April 2024
Dagstuk | Vrydag 29 Maart 2024

In die kerklike wêreld word dit Stil Saterdag genoem, ’n dag van stille refleksie oor wat die omvang van Jesus se offer en sy liefde vir ons is. Ons het gister nagedink oor ons Here Jesus, wat aan ‘n kruis vir ons die ewige lewe verdien het. Hy het gesterf sodat ons kan lewe. Sy liggaam is voor sononder van die kruis afgehaal, want teen sononder, wanneer die eerste drie sterre sigbaar word, het die Joodse Sabbat aangebreek. Die Saterdag waarin Jesus heeldag dood was, was die Sabbatdag, en niemand kon reis om sy liggaam verder te versorg met al die sabbatsreëls van destyds nie.

Dit is nie maklik om die angs en smart van Jesus se volgelinge en familie die dag na sy kruisiging, te begryp nie. Stil Saterdag moes vir hulle ‘n dag van pynlike lament gewees het. Lament is die gebedstaal van diegene wat hul lyding na God toe bring. Lament roep uit tot God, vra God moeilike vrae en protesteer teen die onregverdige lyding rondom ons. Maar, lament is nooit ‘n doel op sigself nie. Omdat ons geloof in die lewende God is, bring lament ons altyd in die wete dat God ons geroep hoor en met goedheid en genade sal optree.

Ek wil jou nooi om vandag doelbewus tyd in stilte deur te bring. Dink diep oor Jesus se verlossingsdaad aan die kruis. Bid vandag jou eie woorde om vir God dankie te sê dat Jesus jou kom verlos het.