Dagstuk | Woensdag 20 Maart 2024

Dagstuk | Donderdag 21 Maart 2024
Dagstuk | Dinsdag 2 Julie 2024

Vandag is Woensdag 20 Maart en hierdie week reis ons verder in ons gemeentebelydenis van hoe ons leef as getuies en volgelinge van Christus. Ons kyk die week spesifiek na een van ons gemeente waardes – om te nader aan God. Soos ons oor die bogenoemde nadink reflekteer ons vandag oor:

Die hindernisse wat ons terug hou. Daar is verskeie hindernisse wat ons daarvan weerhou om nader aan God te kom, soos sonde, vrees, twyfel, en selfs ons eie trots. Dit is belangrik om hierdie hindernisse te herken en dit aan God oor te gee.

Jakobus 4:8 in die 2020 vertaling sê: “Nader tot God, dan sal Hy sal tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, julle dubbelhartiges!”

Ons leef in ’n tyd waar ons maklik wegskram van gesprekke oor sonde. Die grootste hiervan bly nogsteeds vir my persoonlik wanneer jy weet wat reg is, maar nogsteeds die verkeerde doen. Daar is ’n verskil om iets te doen en nie te weet jy doen verkeerd nie. Soos Jesus voor Hy gekruisig word met die woorde: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.

Lydenstyd waarbinne ons onsself tans bevind is juis ’n geleentheid en uitnodiging om die hindernisse in jou lewe, wat jou weerhou om werklik in ’n verhouding met God te groei en te floreer, te identifiseer. Mag hierdie tyd vir ons ’n geleentheid wees van skuldbelydenis, vas en gebed.

Gebed: Here, ons dank U vir u goedheid en genade wat ons elke dag ervaar. Help ons om u nabyheid te soek en ons toevlug te neem tot U in tye van vreugde en moeilikheid. Mag ons lewe getuig van u liefde en trouheid teenoor ons.

Amen.