Dagstuk | Dinsdag 27 Februarie 2024

Dagstuk | Woensdag 28 Februarie 2024
Dagstuk | Maandag 26 Februarie 2024

Matteus 15: 10-11. Toe het Jesus die menigte nader geroep en gesê: Julle moet nou luister en mooi verstaan! Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein.

Die eerste groep gelowiges het meestal uit ’n Joodse agtergrond gekom waarin God se heiligheid direk gekoppel was aan reinigings-rituele en streng voorskrifte rakende sekere kosse wat vermy moet word omdat geglo is dat dit jou onrein kan maak. Hierdie praktyk het later in die vroeë kerk tot groot spanning gelei, omdat nie-Jode wat van Jesus se navolgers deel geraak het, nie by hierdie riglyn gehou het nie. Jesus kom draai hierdie beginsel op sy kop wanneer Hy mense daarop wys dat kos ons nie onrein kan maak nie, maar wel die woorde wat by ons mond uitkom. Terwyl ons baie nougeset heilig probeer leef, besef ons dikwels nie watter impak ons woorde het nie. Dit gaan nie net  hier oor die gebruik van vuil taal nie, maar veral ook die skade wat ons kan aanrig met woorde wat manipuleer, woorde wat spog, woorde wat selfgerig is. Lydenstyd vat ons op reis om meer bewustelik te lewe en ons lewensritmes daarvolgens aan te pas. Kom ons dink dus meer bewustelik vandag oor die woorde wat by ons mond uitkom en die versteekte bedoelinge wat daaragter lê.

Gebed

Here, ek het vandag my kanse verbeur, my tyd verspeel, my humeur verloor, my klagtes voor U opgestapel. Ek het baie gepraat sonder om te dink aan die effek van my woorde. Ek het my eie begeertes verwar met my diepste behoeftes. Wees my genadig. Vergewe my impulsiewe reaksies en woorde. Help my Here om perspektief te kry wat regtig belangrik is – en met die woorde wat vandag opbou, troos, bemoedig en inspireer. Amen.