Dagstuk | Maandag 26 Februarie 2024

Dagstuk | Dinsdag 27 Februarie 2024
Dagstuk | Saterdag 24 Februarie 2024

Lydenstyd is tradisioneel ‘n tyd van die jaar waarin gelowiges hulle daarop instel om hulle normale lewensritmes te verbreek om te fokus op die wyse waarop Jesus se lyding en sterwe ons lewens vandag kom raak. Hierdie week se oordenkings praat met ons hieroor.

Matteus 11: 28-29. Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.

Hoe reageer ons wanneer ons moeg, oorlaai en uitgeput is? Ons is gewoonlik kortaf, gejaagd, geïrriteerd en tree in ons eie belang op.  Die kanse van konflik en frustrasie is dan altyd groot. Hierdie reaksies het weer op hulle beurt gevolge en skep benewens ons huidige uitdagings net meer probleme. Wanneer moegheid ons oorval is ons lywe ingestel op verdediging en aanval. Dit is onvermydelik dat ons gereeld in die lewe by plekke gaan kom waar ons oorlaai word en deur omstandighede uitgeput en moeg agtergelaat word. Hoe hanteer jy die uitputting en moegheid in jou lewe? Wat is dit wat jou krag op hierdie dag tap en waarna jy opsien? Ons kom selde by die punt uit om hierdie vraag te vra en fokus eerder net op die dag wat voorlê en om dit af te handel. Wanneer ‘n mens in die ritme kom om elke dag jou moegheid en laste vir jouself en God te erken is dit soos ‘n kraan wat jy oopdraai en waarin jy skielik van baie spesifieke dinge bewus word. Beleef hoe die Here se sagmoedigheid en nederigheid in jou lewe deurbreek wanneer jy waag om elke dag jou kommer, moegheid en skedule voor die Here te bring. Mag jy ervaar hoe dit jou krag gee om hierdie dag wat vir jou wag in te gaan met ‘n diep vrede wat nie deur omstandighede van jou weggeneem kan word nie.

Gebed

Vertraag my pas Here, maak my rustiger. Bring die wilde geklop van my hart tot bedaring deur my verstand vandag met u vrede te vul. Dwing my om stadiger te beweeg en elke oomblik van hierdie dag waarmee U my mee seën in te neem. Amen.