Dagstuk | Vrydag 23 Februarie 2024

Dagstuk | Saterdag 24 Februarie 2024
Dagstuk | Donderdag 22 Februarie 2024

Teks: Matteus 6:6

Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

GEDAGTE

Die waarde wat stilte en rus vir moderne mense mag hê, moet nooit onderskat word nie. Daar is ‘n sin waarin stilte selfs ‘n belangrike sleutel tot sinvolle verandering in ons persoonlike lewe asook in ons samelewing kan bied.

Om mee te begin, bring stilte ons nader aan onsself. Gee dit perspektief. Help dit ons om eerliker en méér deursigtig te word. Dit is ook die pad waarop God die beste kans kry om ons met Goddelike liefde te bedien, sodat ons met groter deernis teenoor alle ander mense kan gaan leef.

Tereg skryf ‘n ou Siriese teoloog, Isaac van Nineve:

“As jy lief is vir die waarheid, word ‘n liefhebber van stilte. Want meer as baie ander dinge sal stilte vrugte oplewer wat die tong nie kan beskryf nie. In die begin mag dit moeilik wees. Dit mag selfs gebeur dat jy jouself moet forseer om stil te word. Maar as jy aanhou, sal daar iets in jou gebore word wat jou op ‘n onweerstaanbare manier telkens na die stilte sal terugbring.”

In ‘n samelewing waar baie mense in die meedoënlose sleurgang van werk of ‘n maalkolk van daaglikse plesier en verveling vasgevang is, bly dit ‘n tydige herinnering. Gun jou elke dag die oomblik van stilwees in jou binnekamer met God.

GEBED

Dankie Here vir die geskenk van stilte. Ek ontvang dit met ope arms. Amen