Dagstuk | Woensdag 21 Februarie 2024

Dagstuk | Donderdag 22 Februarie 2024
Dagstuk | Dinsdag 20 Februarie 2024

Teks: Lukas 4:42. Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na ‘n eensame plek toe vertrek.

GEDAGTE

Ek dink soms is ek en jy ons grootste vyand… ons verhinder soms die Gees van God, wat in ons woon, om Sy werk in ons en met ons te kan doen, want ons sukkel met die stil wees deeltjie.

En ek weet ek is nie die enigste een wat daarmee sukkel nie, want ons bly in ‘n wêreld met oorverdowende konstante lawaai. ‘n Wêreld waar stilte eintlik abnormaal geraak het. ‘n Wêreld waar stil wees en word ‘n doelbewuste besluit en keuse is.

Moeder Theresa wat gesê het:

“Jesus wag altyd vir ons in die stilte. In daardie stilte luister Hy na ons, daar praat Hy met ons siel en daar sal ons Sy stem hoor. In stilte vind ons nuwe krag en ware eenheid. Die krag van God om alles goed te doen, word ons s’n. Die eenheid van ons gedagtes met Sy gedagtes, van ons gebede met Sy gebede, ons dade met Sy dade, ons lewe met Sy lewe.”

Dit is so nodig dat jy die goeie gewoonte sal aanleer om elke dag tyd in te ruim om net stil by die Here te wees. Dit is die een plek waar jy net hoef te wees en nie hoef voor te gee en te presteer nie. Jy sien, prestasie, verdienste en voorgee maak ʼn mens moeg. By die Here kan jy net stilsit en rou eerlik wees. Hy ken in elk geval jou hart – die mooi en die lelike daarvan. Jy kan Hom in alles ken en Hom presies vertel wat in jou lewe aangaan en wat jou behoeftes is. Dis waar jy rustigheid kry – by God alleen.

GEBED

Dankie Here vir die oomblikke van stilte waar ek verkwik kan word vir my aardse lewe Amen