Dagstuk | Donderdag 15 Februarie 2024

Dagstuk | Vrydag 16 Februarie 2024
Dagstuk | Woensdag 14 Februarie 2024

Vandag is Donderdag 15 Februarie. Ons en mense kan verander, al wil ons dit nie altyd glo nie. Ons kan nie mense verander nie. Mense kan wel, want ons het beheer oor ons keuses. Grondige verandering is hervorming.

Die Bybel praat so daaroor in Gal 4:19 “laat julle gevorm word totdat die vorm van Jesus in julle vorm aanneem.” Dink ook aan Romeine 12: 1, 2 “En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Metamorfose is om oor ’n bepaalde tydperk deur verskillende fases te gaan sodat jy word wat jy bedoel is om te wees. Kyk dus of jy jou eie verandering kan raaksien, want anders gaan jy nooit weet of jy groei nie. Maar hoe meet ons persoonlike groei in ons lewens? Begin by Aswoensdag se uitnodiging tot hierdie reis van gestrooptheid en diep introspeksie.

Dit vra ’n stadiger leefritme as jy jouself dieper wil leer ken. Dit vra stilword om die Gees se fluistering te hoor. Ons moet leer om terug te kyk en vorentoe te kyk. Deur terug te kyk, ondersoek jy jou toewyding. Deur vorentoe te kyk, herinner die Gees jou aan jou proses van metamorfose. Geen mens wat met eerlike selfondersoek besig is, beland nie ook by ontnugtering oor hom/haarself nie. Ons kan maar net huil oor ons gebrokenheid.

Vandag se refleksie: Waar in jou week sal jy ’n ekstra tydjie kan inruim om, sonder om gejaagd te wees, oor jou lewe na te dink? Oorweeg dit om daagliks tyd opsy te sit vir stilte en afsondering en om jou lewe met ’n rustiger ritme te leef.

Gebed: Here, hervorm my tot my ware self!