Dagstuk | Saterdag 3 Februarie 2024

Dagstuk | Maandag 5 Februarie 2024
Dagstuk | Vrydag 2 Februarie 2024

 

In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.

Lukas 4:18-19

18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Refleksie

Ons staan vandag stil by die gedagte: “en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Die genadejaar van die Here is ’n klomp maniere ’n opsomming van die vorige gedagtes. Die genadejaar is ’n jaar van Herstel, waar slawe vrygelaat word, skuld afgeskryf word en land herverdeel word. Dit is goeie nuus vir almal wat onderdruk word, vir die armes, slawe en gevangenes, wat soms vir generasies in ’n siklus van skuld, onderdrukking en slawerny vasgevang word.

Die genadejaar is ook goeie nuus vir die aarde, waar die land kans gegee word om te rus en herstel.

Ons lewe in ’n wêreld, wat amper soos Egipte van ouds, ’n wêreld van werk sonder rus is, waar daar geen geleentheid vir rus en herstel vir die mense en vir die aarde is nie.

Waar sien jy dat herstel nodig is? Waar sien jy dat rus nodig is?

Hoe nooi Christus jou vandag uit om die genadejaar van die Here ’n realiteit te maak?

Reflekteer vandag oor die genade van die Here. Mag ons die vrygewigheid van sy genade besef en deel van hierdie genadejaar wees.

Gebed

Hemelse Vader, ons loof U vir U onverdiende genade. Mag ons deel word van die aankondiging van U genadejaar deur liefde en vergifnis aan ander te bewys. Mag hierdie genade ons harte vervul en oorvloedig uitvloei na ander. Amen.