Dagstuk | Woensdag 31 Januarie 2024

Dagstuk | Donderdag 1 Februarie 2024
Dagstuk | Donderdag 30 Januarie 2024

In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.

Lukas 4:18-19

18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.

Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Refleksie

Ons staan vandag stil by die gedagte: “Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word”

Vir die meeste van ons maak die gedagte van gevangenes wat vrygelaat word, ons so bietjie bang. As ons dink aan iemand in die tronk wat op parool vrygelaat word, of iemand wat ’n opgeskorte vonnis kry, dan maak dit allerhande emosies binne ons los, gewoonlik nie positief nie. Want daar is ’n rede dat die gevangene gevange is – die wet is oortree en ter wille van die veiligheid van die samelewing word die persoon gevange gehou.

Natuurlik lyk die prentjie vandag so bietjie anders as in Jesus se tyd. Om ’n gevangene te wees was nie die resultaat van ’n vry en regverdige regstelsel nie, maar die uitoefening van die mag wie ook al in beheer was. Slawe is ook gevange gehou deur ’n sisteem van onderdrukking en ongelykheid. Vir die meerderheid wat deel is van so ’n sisteem, is die vrylating van gevangenes rede om vees te vier! Dink maar net aan wat die vrylating van Nelson Mandela vir Suid-Afrika beteken het.

Hoe voel jy as jy hoor dat Jesus gekom het om vrylating vir gevangenes aan te kondig? Watter emosies maak dit by jou los?

’n Samelewing waar tronke vol is, is nie gesond nie. Ons droom saam met Christus van ’n wêreld waarin daar geen meer gevangenes sal wees nie. Wat moet gebeur vir hierdie wêreld om ’n realiteit te word?

Op ’n dieper vlak kan ons vra na wat mense gevange hou op ander maniere. Dalk voel jy dat iets jou gevange hou. Jesus kom kondig vir elke vorm van gevangenis bevryding aan.

Reflekteer vandag op die vryheid wat Christus aankondig. Mag ons bewus wees van enige areas van ons lewens waar ons nog gevange is, en mag ons die bevrydende krag van die Evangelie ervaar.

Gebed

Vader, ons dank U vir die vryheid wat ons in Christus het. Help ons om volkome vry te wees van enige kettings van sonde, skuld of vrees. Mag ons die ware vryheid in Christus geniet en bevryding bring waar ons sien dat mense gevange gehou word. Amen.