Dagstuk | Saterdag 27 Januarie 2024

Dagstuk | Maandag 29 Januarie 2024
Dagstuk | Vrydag 26 Januarie 2024

 

Ons gaan vandag die laaste gedeelte van die verhaal in Johannes 4 lees toe Jesus die Samaritaanse vrou ontmoet het. Nadat sy tot insig gekom het dat God besig is om indringend met haar te praat het sy haar getuienis met ander mense in die dorp gedeel en hulle het op die volgende manier reageer:

Johannes 4: 42. Ons glo nie meer op grond van wat jy (Samaritaanse vrou) vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is”

Hoe maak die Here ‘n impak op die wêreld waarin ons leef? Ons teks van vandag is ‘n goeie samevatting en afsluiting van alles wat ons die afgelope week in die verhaal gehoor het. God is in die eenvoud van die lewe met alle mense besig. Nie net met die Jode, soos wat gelowiges in Jesus se tyd geglo het nie, maar ook met die Samaritane op wie hulle neergekyk het. God ontmoet nie net mense in godsdienstige ruimtes nie, maar langs waterputte en op die mees onverwagte plekke – daar is God! Vandag se teks praat met ons oor die rol wat ons daarin speel. Soos die Samaritaanse vrou het ons die voorreg om God se genade wat ons kom verander te beleef, maar ook te deel. Godsdienstige mense het ongelukkig die reputasie dat hulle mense in verandering wil indwing. Ons kan moedeloos raak omdat ons nie mense wat dinge ooglopend verkeerd doen, sover kan kry om hulle lewens te verander nie. Ken jy so iemand? Is jy dalk in so ‘n situasie? Vandag se teks herinner ons dat nie ons is wat mense verander nie, maar God. Ons rol is om God se genade te deel en Hom toe te laat om mense self tot insig te bring. Wat is die genade wat God jou vandag van bewus maak wat jy moet deel?

Gebed

O God, U is bokant ons, en was in u Seun een van ons. U is ook . . . in ons. Mag mense daarom vandag vir U in my raaksien. Mag my lewe dit vir mense makliker maak om in u liefde te glo. Bewaar my daarom van haastige oordele en oplossings wat vir my rein en edel mag klink, maar nie begrip het vir mense se unieke omstandighede en uitdagings nie. Dankie dat ons eenvoudig die boodskap van u genade kan uitleef en kan aanskou hoe U mense op reis neem. Mag ek dit aanvaar wat ook al vandag oor my pad kom, omdat ek glo dat U daarin by my is.

Amen.