Dagstuk | Maandag 22 Januarie 2024

Dagstuk | Dinsdag 23 Januarie 2024
Dagstuk | Saterdag 20 Januarie 2024

 

Ons teksgedeelte vir die hele week is die verhaal in Johannes 4 toe Jesus die Samaritaanse vrou by ‘n waterput ontmoet het. Dit sal goed wees as julle iewers in die week die hele verhaal self deurlees. Ons gaan elke dag deur dieselfde teks (Johannes 4:10) na verskillende kante van die verhaal kyk.

Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.

Ek en my vrou het twee weke terug ‘n kerkdiens in NG kerk Drie Ankerbaai bygewoon. Die kerk(ie) staan in die middel van Seepunt se besige hoofstraat. Dit word verdwerg deur kolossale woonstelkomplekse en helderkleurige tekens van winkels en besighede. Net oorkant staan die mense tou voor die Steers restaurant en in die straat af staan die tou weer voor  Kentucky fried chicken. Dit is altyd besig daar met min parkeerplek en daar is voortdurend ’n geraas van karre. Dit is maklik om die kerk in die besigwees van stad heeltemal mis te kyk. Miskien juis omdat ‘n mens nie ‘n kerk op ‘n plek soos daardie verwag nie, maar daar wag ‘n groot verrassing op ’n mens wanneer jy die kerk binnestap. Jy word oorweldig deur die helder kleure van die groot loodglasvensters wat jou omring en skielik word die harde geluide van die besige stad buite meer bedaard. Hierdie ervaring het my laat dink aan die tyd van die jaar waarin ons onsself bevind, naamlik Epifanie (die woord beteken “verskyn”). Dit praat na Kersfees met ons oor God wat ons in die gewone daaglikse roetines van die lewe kom ontmoet, soos Hy die Samaritaanse vrou ontmoet het, op plekke waar ons dit dikwels nie verwag nie. Net soos wat die gebrandskilderde venters, waarop die storie van Jesus verbeeld word, skielik die uitsig en ervaring van die stad daarbuite kom verander, so lei Epifanie ons om ons hede in ‘n ander lig te sien. Dit is waaroor ons in die volgende vyf dae gaan nadink. Die manier waarop die Here ons in hierdie hede kom ontmoet en ons lei om nuwe betekenis daarin te vind.

Gebed

Here, wees by ons waar ons almal besig is om die roetines van ons jaar te hervat. Help ons om gedurig onder die indruk te kom hoe U besig is om ons te lei om ons hede en omstandighede in ‘n ander lig te sien. Dankie dat U ons in die midde van die besigste en drukste tye van ons lewens tot rus bring.

Amen.