Dagstuk | Donderdag 18 Januarie 2024

Dagstuk | Vrydag 19 Januarie 2024
Dagstuk | Woensdag 17 Januarie 2024

Teks:Psalm 42:12

12Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God!

GEDAGTE

Twyfel jy soms? Twyfel jy dalk oor 2024? Ons almal twyfel soms. Ons twyfel oor baie dinge. Ons twyfel oor die toekoms van ons land; Vir hoeveel jaar sal ek nog gesond en sterk wees? Ons huweliksgeluk; My kinders se toekoms en so kan ons aangaan. Ek dink elkeen wat hier lees of luister vanoggend kan erken dat ons twyfel.

In die Bybel lees ons ook van mense wat getwyfel het

  • Dink maar aan die tientalle twyfelvrae in die Psalms: Here waar is U? Here God, ek kry swaar, my pyn is ondraaglik, hoekom verhoor U nie my smeking nie? Here hoekom red U my nie? Waarom gaan dit sleg met my?
  • Job – ’n eerlike gelowige – worstel met God. Volgens sy vriende word Job gestraf vanweë onbekende sondes. Job verwoord sy twyfel teenoor God self in ’n soort strydgesprek.
  • Ook die Prediker twyfel, nee bevind dat geloof nie die voordeel sou hê wat algemeen destyds aanvaar is nie. Lyding en dood tref immers almal.
  • Johannes die Doper vra: “Is Hy die een wat sou kom of moet ons ’n ander een verwag?” Selfs by hom is daar aanvanklik twyfel of Jesus die Messias kan wees!
  • Dalk die bekendste twyfelaar is Thomas wat nie sy mede-dissipels na Jesus se verskyning glo nie, maar twyfel en ’n bewys benodig om sy twyfel te besweer.

God se beloftes aan die gelowige verander nie. Ontvang dit weer vandag.

  • alle twyfel verdwyn wanneer ons Rom 8:39 hoor: “Geen skep­sel, kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
  • alle twyfel oor ons kindskap van God verdwyn wanneer ons 1 Joh 3:11 hoor: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.”

GEBED

Here, ek bring al my twyfel na U. Mag ek hierdie nuwe jaar in vertroue stap. Amen