Politici – ons en die waarheid

Die verkiesing is verby . . . Wat nou?
Advertensie | Gold and Diamond traders

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Die wêreld en sy vrou het in die laaste tyd verkiesing gehou. Gevolglik is enige iemand wat op hoogte wou bly van die nuus, blootgestel aan eindelose politieke toesprake. Vir die Britte is die hemel belowe, vir die Franse ʼn gesuiwerde bevolking, vir Amerika – wel vir Amerika is niks belowe nie, hulle is te besig om mekaar te verkleineer om hulle nog aan beloftes te steur. Hier by ons lyk dinge meer belowend, maar ons sal tog moet sien, want wie kan ʼn politikus glo? Dit alles het my aan Oupa Hugo laat dink.

Pieter Hugo was my liewe vrou se oupa, en ʼn toegewyde parlementslid in die ou Suid-Afrika. Hy was egter nooit ʼn goeie, politikus nie – of só, altans, het van sy mede-volksraadslede vir hom verduidelik. Die probleem was sy integriteit! Hy was té eerlik, té lief vir die waarheid, het hulle hom vermaan. In die politiek is dit jou doodsvonnis, het hulle gepredik – en hulle was reg. Hy was ʼn intelligente, wyse en bekwame man, maar het nooit ʼn glanspossie verkry nie, die party kon hom immers nooit vertrou om tot hulle voordeel te jok nie.

Daar is oral politici met integriteit, maar hulle word nie sommer die groot name nie. Hoekom dit so is, kom ʼn mens agter as jy die fassinerende maar neerdrukkende boek lees van twee politieke wetenskaplikes in die VSA, Bruce Bueno de Mesquita en Alastair Smith: The Dictator’s Handbook, met die subtitel – Why Bad Behavior Is Almost Always Good Politics.

Slegte gedrag is meesal goeie politiek? Die Vader behoede ons!

As hulle aan bewind wil bly, moet politici die waarheid verdoesel, verduidelik die twee politieke wetenskaplikes. Hulle beoordeel nie die politieke leuenagtigheid nie; plak nie die etiket van goed of sleg daarop nie; beskryf bloot hoe die politiek werk – en politiek sonder leuens werk nie, verduidelik hulle. As ʼn leier die mag, selfs ten goede, wil behou moet hy of sy links hou van die reine waarheid – of as jy dan nou wil, regs daarvan verbysteek, want links of regs maak nie soveel saak nie solank jy net die waarheid misry. As hulle reg is, dan is dit geen wonder dat die wêreld lyk soos hy lyk nie, want leuens vernietig lewens. Daarom noem Jesus die Duiwel die vader van die leuen (Johannes 8:44) en hy, die liegende duiwel, is die heerser van hierdie wêreld (Johannes 12:31). En mense sterf weens leuens, want hierdie vader van die leuen, hierdie duiwel, is ʼn mensemoordenaar van die begin af.

ʼn Te dikwels misgekykte boekie uit die pen van die groot Russiese skrywer, Fyodor Dostoyevsky, The Dream Of A Queer Fellow And The Pushkin Speech, vertel die verhaal van ʼn man wat ʼn onthutsende droom gehad het. Hy het gedroom dat hy selfmoord pleeg en toe weggevoer word na ʼn planeet wat net soos die hemel is. Dit is ʼn heerlike paradys. Die mense van hierdie planeet ontvang en omhels hom met onbeskryflike liefde. Hy word opgeneem in hulle gemeenskap en hy beleef intense vreugde en vrede. Op hierdie planeet is daar g’n greintjie boosheid nie, maar dan, op ʼn goeie dag, nadat hy al ʼn tydjie op hierdie planeet vertoef het, vertel ons held ‘n leuen. Net een ou leuentjie; ʼn onskuldige leuentjie; enetjie wat niemand kwaad aandoen nie; ʼn ou wittetjie. Die gevolge is verskriklik. Leuenagtigheid vat dadelik pos en versprei onder die inwoners van die planeet met die spoed van ʼn uitgeniesde virus. Kort voor lank word hierdie voormalige paradys, ʼn hel, ʼn aaklige plek, ʼn bose samelewing nes die aarde waarvandaan hy met sy selfmoord wou ontsnap.

Dostoyevsky was ʼn toegewyde Christen en sy storie is soos een van Jesus se gelykenisse. Dit skryf ons op die hart dat ʼn samelewing waarin mense vertroue in mekaar verloor het, onleefbaar is, en as ons oor die huidige wêreld met sy selfsug, wreedheid en oorloë dink, kan ons maar net sê dat dit inderdaad so is.

Oeps! Ek het ʼn fout gemaak toe ek hierbo geskryf het: “Ons huidige wêreld”. Die woord “huidige” is misleidend en kortsigtig. Ek moes bloot geskryf het, ons wêreld, want van die eerste oomblik af dat Satan vir Eva oor God se integriteit laat twyfel het, het die leuen ons planeet se geskiedskrywer geword. Die Seun van God het in hierdie geskiedenis in, mens geword, en Hy het presies geweet waarvoor Hy hom inlaat, daarom het hy mense nie sommer vertrou nie (Johannes 2:24-25) en toe Hy iemand ontmoet wat totaal en al eerlik is (Natanael) het Hy dadelik ander se aandag daarop gevestig: “Kyk, hy is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie” (Johannes 1:47). Hierdie bedrogloosheid is so ʼn uitsondering dat dit vir ewig opgeteken is in die Groot Boek.

Om ons te verlos moes Christus nie net sterf nie, Hy moes die teendeel van die leuen wees, Hy moes van die waarheid getuig. Vir Pilatus sê Hy selfs dat dit die hoofrede vir sy koms was:

“Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom:
om oor die waarheid te getuig.
(Johannes 18:37).

Herkou ʼn bietjie daaraan, rol hierdie gedagtevir ʼn paar oomblikke rond in jou kies, vryf hom met jou tong teen die verhemelte: Hoekom is Jesus gebore en het Hy na ons wêreld gekom? Om van die waarheid te getuig. Wat sê dít oor ons liegende, bedriegende wêreld? Wat sê dit oor ons verkullings en “onskuldige” witleuentjies? Wat sê dit nie net oor die politiek nie, maar oor ons eie harte? As Hy die Verlosser is, waarvan wil Hy ons verlos – is dit dalk van ons almal se afgryslike oneerlikheid?

Maar, wag, soos die advertensies sê, daar is meer! Jesus getuig nie net van die waarheid nie, Hy is sommer self die waarheid. (Johannes 14:6) Hy is so absoluut sonder bedrog, dat jy Hom volledig kan beskryf deur Hom “Die Waarheid” te noem. Soos God, wat so geheel en al vol liefde is dat Johannes in een van sy briewe kan skryf: God is liefde. God kan beskryf word met hierdie een woord: Liefde. Jesus kan beskryf word met die woord: Waarheid!

Hoe anders sou ons wêreld nie gelyk het as politieke leiers soos Jesus was nie – of, as hulle nie soos Jesus kan wees nie, dan minstens soos Natanael? Dit kán gedoen word, Natanael het dit immers reggekry, ons het Jesus woord daarvoor! Maar, hier volg die angel in hierdie gedagte se stert:

In die vroeë twintigste eeu het die internasionale nuusblad, Time, ʼn vraag aan sy lesers gestel. Die vraag was: Wat is fout met die wêreld? Van oraloor het mense met diep gedagtes gereageer. Die kortste, waarste, helderste antwoord het gekom van ʼn bekende Britse skrywer, filosoof en toegewyde Christenmens, GK Chesterton.

Time: “Wat is fout met die wêreld?”
Chesterton:    “Ek is”.

As ek wil hê dat die wêreld moet verander, só het Chesterton bedoel, dan moet ek by myself begin. As ek wil hê dat die leuens moet stop, dan moet ek by myself begin. Daarvoor het ons die krag van die Here nodig.

Hier is ʼn lied waarmee jy jouself elke oggend kan aanmoedig:

Lied 513:1 & 2
Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag;
met sy wapenrusting klee Hy ons met mag.
Nie teen medemense is ons worstelstryd,
maar ons veg teen Satan en sy sluwe listigheid.
Hy stuur bose magte in die wêreld in,
maar met God se wapens kan ons hul oorwin.

Waarheid en Gods vryspraak
hou ons op ons pos,
dan klink bly die boodskap
dat die Heer verlos.
Ons geloofsvertroue is ’n skild wat keer –
daarmee kan ons elke brandpyl
van die Bose weer.
Ons bly van verlossing altyddeur bewus
en met God se swaard, sy woorde, toegerus.

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].