Hierdie week wandel ons verder met gedagtes uit Kolossense 4:2-6.
Kolossense 4:6:
“Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ‘n ieder en ‘n elk te antwoord.”
Dink vir ’n oomblik oor wat dit beteken dat ons geloof soos sout is wat ons lewens besprinkel. As ons na mense se lewens kyk, lyk geloof dikwels soos een van die disse in ’n tien-gang maaltyd: dit is maar een van die vele dinge wat ons lewe opmaak. Soms fokus ons net vir ’n ruk op geloof, en dan doen ons ’n klomp dinge wat blykbaar nie direk met geloof te doen het nie.
Die boodskap hier is anders. Geloof is nie net een van die disse nie; dit is die sout wat smaak en betekenis gee aan alles anders. Alles wat ons doen, is deel van hoe ons Jesus volg. Geloof is nie iets ekstra wat ons moet byvoeg nie; dit is die dimensie wat alles anders wat ons doen sinvol maak.
Hoe sou jou manier van dink oor geloof verander as jy besef dat dit nie nog iets is wat jy doen nie, maar eerder die krag wat betekenis aan alles gee wat jy doen?
Die teks maak ons verder bewus dat alles wat ons doen saak maak. Ons geloof in Christus behoort ons dade te beïnvloed en te kleur. Alles wat ons doen, moet besprinkel wees met die sout van Jesus se liefde en genade, sodat dit ’n goeie smaak en ’n positiewe invloed laat in die lewens van die mense rondom ons.
Soos Moeder Teresa ons herinner:
“Do not think that love in order to be genuine has to be extraordinary. What we need is to love without getting tired. Be faithful in small things because it is in them that your strength lies.”
Gebed
Here, besprinkel ons lewe met die sout van U liefde. Mag ons elke dag, in alles wat ons doen, U Koninkryk sigbaar maak.