Dagstuk | Dinsdag 1 Julie 2025

Dagstuk | Maandag 30 Junie 2025

Tema: Liefde gee ons identiteit

Teks: 1 Johannes 3:1. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God.

 Wanneer jy iemand nuut ontmoet is daar twee vrae wat dikwels eerste gevra word: Waar kom jy vandaan en wat is jou van? En dan vat dit verbasend genoeg nie lank voordat julle iewers ‘n gemeenskaplike persoon ken, of iewers by ‘n gemeenskaplike ervaring uit kom nie. Ons vanne vertel ook iets van ons identiteit. Dit getuig oor ons voorgeslagte en hoe ons families deur tyd gevorm is. Maar dan binne die een van is daar ‘n verdere verdeling soos met my skoonfamilie wat van die Namakwaland af kom en daar gepraat word van die “goue tande” en die “rooi wange”. Julle kan self julle afleidings maak. En ai hoe onregverdig is dit dan nie as jy dan nou in die bloedlyn van die rooi wange jou herkoms vind nie!

Te midde van die verdeling binne een familie asook die feit dat dit groter en groter word as ons oor die grense van taal en kultuur beweeg, bly ons almal op die einde tog net mens. Tog, is ons geskape na die beeld van God. Maar wie is die “ons” waarna verwys word en wie is die “wêreld” wat God lief het? Die feit dat God na mense as  kinders van God verwys breek skielik ‘n mens se kop oop vir die groot gedagte dat ons veel meer in gemeen het met mekaar het as wat ons dink. Of dit goue tande, of rooi wange is – ons deel almal in dieselfde voorreg om kinders van God genoem te word en in dieselfde genade te deel. Elke keer wanneer ons ‘n baba in die kerk doop word ons aan hierdie belangrike realiteit herinner. Jy word nie God se kind deur die menswees in wie jy ontwikkel, of die vermoëns wat jy besit nie. Jy, saam met ander, hoe verskillend iemand ook al mag wees, word geseën deur ‘n Vader se onvoorwaardelike liefde. Hoe verander hierdie perspektief die wyse waarop jy ander sien en met hulle meleef?

Gebed

Hemelse Vader, U het ons geskep na u beeld – met waarde, met doel, en met liefde. U ken elke hart, elke naam, en U roep ons, een vir een, “Kind van God.”

Dankie, Here, dat U ons identiteit nie baseer op wat ons doen,
of wat mense van ons sê nie – maar op wie U is, en op wie U sê ons is.

In U oë is ons nie verlore nie, nie verwerplik nie, nie anoniem nie. U noem ons geliefdes, U nooi ons in u huis in, sonder uitsluiting, sonder voorwaarde.

U liefde sluit almal in – elke volk, elke taal, elke nasie. U roep elke mens,
elke kind van stof, om in U arms rus te vind.

Here, help ons om U stem bo alle ander te hoor: “Jy is My kind, Ek het jou by die naam geroep, jy is Myne.”

En gee ons die moed om ander ook so te sien – as broers en susters,as mede-erfgename van U genade. AMEN