Dagstuk | Woensdag 2 Julie 2025

Dagstuk | Dinsdag 1 Julie 2025
Dagstuk | Donderdag 3 Julie 2025

Tema: Liefde genees

Teks: Spreuke 10:12. Haat verwek twis, liefde bedek alles wat aanstoot gee.

Dink vir ‘n oomblik aan al die gedagtes wat jy daagliks met jou saamdra wat binne jou rond dwarrel. Kan jy hulle onderskei? Dit is baie moeilik en ons herken hulle dikwels eers as hulle na vore kom in ons emosies en aksies wat daaruit voortvloei. Maar teen dié tyd het gedagtes van haat reeds in twis deurgeglip en dit vat baie lank om die gevolge daarvan weer om te keer. Is daar ‘n manier waarop ons die proses kan stop voor ons skade aanrig?

Wat is ‘n ongelukkige gedagte? Dit het gewoonlik te doen met iets wat ons aanstoot gee. Die aanstoot word dan in emosies soos onsekerheid, vrees, frustrasie en woede omgesit wat weer om die beurt tot veg of vlug reaksies lei. Ons kan met onsself baklei, maar ons rig ons negatiewe emosies gewoonlik op mense en daaruit beland ons in ‘n twis en twis het net twee uitkomste: Jy kan wen, of verloor. Spreuke deel met ons die waarheid van hoe haat, wat ons in ons gedagtes met ons saamdra twis verwek. En twis ontaard dan in allerhande ander ontwrigtende gedagtes, emosies en aksies. En dan die groot wysheid: Liefde bedek alles wat aanstoot gee. Die teks praat dus van ons bewuswording van liefde wat van die begin af vernietigende gedagtes, emosies en aksies keer.

Kom ek vra weer: Wat is die gedagtes wat tans in jou rondmaal. Wat gee jou aanstoot? Nou is dit skielik nie meer so moeilik om die gedagtes wat in jou leef vas te pen nie. Hoe is die Heilige Gees besig om met jou oor hierdie gedagtes te praat. Wat sou dit beteken dat die Here jou in staat stel om hierdie donker gedagtes te bedek sodat dit nie oorspoel in jou emosies en aksies nie. En skielik ontdek ons dat God veel nader aan ons is as wat ons gedink het.

Gebed

Here, U is liefde – die liefde wat sterker is as vrees, wat sagter is as woede,
maar magtiger as enige storm in ons harte.

Ons gedagtes is dikwels troebel, ons emosies onstuimig,ons harte soms hard,
gevul met oordeel, afguns of pyn. Maar U liefde, o God, bedek alles.

U liefde kyk nie met verdagte oë nie,
U liefde hou nie boek van verkeerd nie,
U liefde draai nie weg wanneer dit moeilik raak nie.
Dit staan vas, stil en sterk, selfs teen die donkerste haat.

Here, kom met U liefde – maak ons harte sag, stil ons onrus,
en bring vrede waar daar woede is, lig waar daar wanhoop is, versoening waar daar skeiding is.

Bedek ons, Here, sodat ons nie meer reageer uit ons eie gebrokenheid nie,
maar uit U volmaaktheid. Leer ons om ander lief te hê soos U ons liefhet:
vol genade, sonder voorwaardes, sonder einde.

Laat U liefde in ons lewe brand sodat dit alles om ons aanraak – en die wêreld iets van U hart kan sien.