In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Daniël, wat ons leer om in ’n veranderende wêreld getrou te bly aan God.
Daniël 3:17-18
As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. 18 Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.”
Refleksie
Sadrag, Mesag, en Abednego het geweet dat God hulle kan red, maar hulle het ook geweet dat selfs al red Hy hulle nie, hulle steeds getrou aan Hom sou bly. Uit die res van die verhaal weet ons dat die drie vriende wel uit die vlammende vuuroond gered is, maar ons weet ook dat daar baie ander stories van mense met dieselfde geloof is wat nie uitgedraai het soos wat hulle gehoop het nie. Sadrag, Mesag en Abednego se gesprek met die koning maak dit egter vir ons duidelik dat geloof nie daaroor gaan om te vertrou wanneer alles volgens plan gaan of uitdraai soos wat jy graag hoop dit doen dit nie – geloof gaan juis daaroor om te kies om getrou te bly aan God en sy Koninkryk, ongeag die uitkoms.
Wat beteken dit vir jou om getrou te bly aan God en sy koninkryk?
Hoe reageer jy wanneer God nie antwoord soos wat jy verwag nie?
Waarvoor is jy bereid om op te staan, ongeag die gevolge daarvan?
Gebed
Here, skenk aan my ’n geloof wat nie afhanklik is van hoe goed dit met my gaan nie, maar waarin ek kan hoop vind, selfs in tye van hopeloosheid. Gee my die moed om op te staan vir die dinge wat vir U belangrik is.
Amen