Dagstuk | Dinsdag 11 Augustus 2026

Dagstuk | Maandag 10 Augustus 2026
Dagstuk | Woensdag 12 Augustus 2026

Teks: Matteus 18:21–22

Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.”

Ons dink vir die volgende paar dae saam oor hierdie gesprek tussen Petrus en Jesus, as Petrus vir Jesus vra hoeveel keer hy iemand moet vergewe as hulle iets teen hom doen. Ons het gister saamgedink oor waar ’n goeie plek is om te begin gesels oor vergifnis. Ek dink ’n goeie plek om te begin, is om dalk vir mekaar te sê wat vergifnis nie is nie.

Vergifnis is nie ontkenning nie. Dis nie om dit wat aan jou gedoen is, af te maak as onbelangrik of betekenisloos, en te maak asof die wond vir een of ander rede nie meer seer is of saak maak nie. Dis ook nie om dit wat aan jou gedoen is, te verskoon nie. As gelowiges gebruik ons baie keer die sinnetjie: “God wil hê jy moet vergewe en vergeet,” asof God nie geïnteresseerd is in geregtigheid nie.

Vergifnis is ook nie dieselfde as rekonsiliasie of heling nie. Heling het sy eie tydlyn, en rekonsiliasie is nie altyd moontlik nie. Soms is die beste ding wat jy vir jouself kan doen om die verhouding af te sny, selfs al het ons hulle vergewe. So, vergifnis is nie onttrekking nie.

Maar vergifnis is ook nie ’n kortpad nie. As gelowiges word ons gevra om te vergewe, maar ons is ook deel van ’n lang tradisie wat glo dat ons voor vergifnis ook moet rou. Ons moet ook kwaad raak en dan die harde werk doen van belydenis en verandering.

So, vergifnis vind nie oornag plaas nie, nie as ons regtig eerlik is nie. Dis ’n proses wat nie altyd ’n reguit lyn volg nie, maar eerder ’n plek waarby ons moet arriveer. Dis moeilik. Daarom dink ek nie vergifnis is soos ’n roltrap nie. Dis eerder soos ’n spiraaltrap wat ons om en om stap in ’n poging om afstand te kry tussen dit wat aan ons gedoen is en die lewe waarvoor ons hoop.

Maar as gelowiges glo ons dat, as ons onsself aan hierdie proses oorgee, ons perspektief stadig maar seker, soms oor ’n lang tyd, verander. Die pyn raak minder en ons voel ligter.

So mag ons waardering hê en respekvol wees vir die feit dat vergifnis nie ontkenning is nie, maar ook nie ’n kortpad nie. Mag ons dalk ook in hierdie tyd anders begin dink oor ons eie voorveronderstellings oor wat ons dink vergifnis van ons vra.