Dagstuk | Dinsdag 14 Mei 2024

Dagstuk | Woensdag 15 Mei 2024
Dagstuk | Maandag 13 Mei 2024

 

Vandag is Dinsdag 14 Mei en ons gaan die week saam reis en dink oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.

Ons het gister gehoor dat in die Ou Testament was wind en vuur ’n teken van God se teenwoordigheid en dat die mense ver na die tabernakel moes reis om met God kontak te maak, maar met die uitstorting van die Heilige Gees het Jesus dit moontlik gemaak dat ons nie meer ver na die tabernakel hoef te reis nie, maar dat ons kan bid en ook na mekaar toe kan draai, omdat ons almal gevul is met die Heilige Gees en van mekaar by God leer.

Kom ons lees 1 Korintiërs 12:21-27

21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, 23en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, 24terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. 27Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan.

God het vir almal verskillende gawes en talente gegee en hierdie teks maak ons daarvan bewus dat elkeen van ons vir God belangrik is en dat ons met die gawes wat God vir ons gegee het saam die Koninkryk van God kan bou en ander kan dien. Die teks beklemtoon ook dat geen gawe belangriker as ’n ander is nie, maar dat elkeen ewe belangrik vir God is. By die werk, in die klas of by die huis kan ons die gawes en talente wat God ons mee geseën het saam, ter eer van Sy naam, gebruik. Die teks maak aan ons bekend dat almal se gawes vir God ewe belangrik is, want almal speel ’n ewe belangrike rol in Christus se liggaam. Niemand se gawes is belangriker as iemand anders sin nie. Soms voel ons dat ons gawes nie goed genoeg is nie, of dat ons geen verskil kan maak nie, maar die teks kom bevestig dat ons met die Heilige Gees in ons harte en die gawes en talente waarmee God ons geseën het wel ’n verskil in die wêreld kan maak. God het jou geroep met jou spesifieke gawes en talente om saam met ander en saam met Hom, Sy Koninkryk op aarde te bou.

Ek wil julle uitdaag om na te dink wat is die gawe, of talent waarmee God jou geseën het en om vir God te vra hoe jy dit gebruik ter eer en die opbou van God se Koninkryk kan gebruik?

Gebed:

Here, dankie dat U aan ons die Heilige Gees gegee het sodat ons weet dat U altyd by ons is. Here dankie vir die gawes en talente waarmee U my geseën het. Here help my om die gawes en talente te gebruik om u Koninkryk op te bou. Help my om te besef dat ek ook spesiaal is in u Koninkryk en dat ek saam met ander my gawes kan gebruik om u lig aan die wêreld uit te staal en u Koninkryk op aarde te bou.

Amen