Dagstuk | Dinsdag 16 Januarie 2024

Dagstuk | Woensdag 17 Januarie 2024
Dagstuk | Maandag 15 Januarie 2024

Teks:Psalm 10:17. U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed.

GEDAGTE

Vandag wil ek jou bemoedig met die volgende woorde: Hou moed want God verhoor ons gebede. Dis ook die woorde van Psalm 10:17: “U gee hulle nuwe moed, U verhoor hulle gebed”

God verhoor altyd gebede, al voel dit soms vir ons of Hy ons nie antwoord nie. Hy antwoord ons wel, maar ons kom dit net nie altyd agter nie. Soms antwoord Hy ons op maniere wat ons nie verwag nie. Ons wag nog dat Hy doen wat ons gesê het, dan het Hy lankal op ʼn ander manier geantwoord. Ons geestelike ore en oë moet oop wees om te kan hoor as God antwoord. Hy weet wat vir ons die beste is en sal dus soms op maniere antwoord wat ons nie verwag nie.

Die Here kan ook partymaal “nee” sê. Ons kry baie sulke voorbeelde in die Bybel. Dit is gewoonlik as ons verhouding met die Here nie so goed is nie. Dan sê die Here moet sekere dinge eers in plek kom. Voor Hy verder na ons gebede luister moet ons eers ons verhouding met Hom regmaak. Ons moet ook nie verbaas wees as die Here ons partymaal verras met iets wat baie groter is as waarvoor ons gebid het nie.

God sal in sy liefde nie afwyk van wat Hy bepaal het die beste vir ons sal wees nie. Ons moet vra, ons moet soek, en ons moet klop. Met ander woorde, ons moet bid. God maak die belofte dat ons sal ontvang. Maar ons ontvang nie noodwendig presies waarvoor ons gevra het nie. Dit sal egter die beste vir ons wees, op die gegewe oomblik. God ignoreer nie ons gebede nie. Hy hoor dit aan in die onvolmaaktheid waarmee dit gebring word, en Hy gee die volmaakte antwoord daarvoor.

GEBED

Dankie Here dat ek hierdie jaar met moed kan ingaan omrede U my gebede verhoor volgens U volmaakte plan.

Amen