Dagstuk | Dinsdag 17 November 2026

Dagstuk | Maandag 16 November 2026
Dagstuk | Woensdag 18 November 2026

Ons kan elkeen vir ons besondere groepies van vyf bymekaar, soos byvoorbeeld: die groot vyf van Afrika: luiperd, buffel, leeu, olifant en renoster.  Boere in die Klein-karoo noem reën, sneeu, ryp, vuur en hael die groot vyf van die Klein-karoo.

Ons tema vanoggend is: reën as een van die groot vyf van die Klein-karoo.

Tekslesing:   Jesaja 55:10-11 en Johannes 4:14.

 “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet.”     

 “Wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. (sê Jesus). Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

Water is lewe.  Water reën uit die wolke, benat die aarde, laat bogrondse en ondergrondse riviere vloei. Dit dam op in laagtes en selfs in ondergrondse damme. Dit borrel as fonteine bo die grond uit.  Water doen altyd meer goed as kwaad, selfs tydens ‘n vloed, sê baie boere van die Klein-karoo.

Kom ons eer en dank God vir die reën  waardeur Hy sy skepping versorg.  Sy reënwater laat groei, dit les dors, reinig en maak skoon, en help jou  kosmaak. Wees spaarsamig met water in ons droeë land.  Bid vir hulle wat die waterbronne in ons land moet bestuur.

Gewone fonteinwater droog dikwels op tydens die strawste droogte.  Aan ‘n Samaritaanse vrou by ‘n waterput het Jesus gesê Hy het water wat ewige lewe gee.  Jesus se fonteinwater droog nooit op nie en bly ewig opborrel in gelowige harte. Ons kan maar net drink van Jesus deur sy Gees wat in ons woon.

Die fontein met Jesus-water is nie brak nie. Sy water is soet soet genadewater.  Deur jou verbondenheid aan Jesus sal jy nooit toegang geweier word tot die fontein nie.  Die water bly vloei in jou waar die Gees woon.

Gebed.

Here, dankie vir reën wat lewegewende water bring. Ons dank U in besonder vir ewige water wat U gee in Christus en dat ons dit as onverdiende genadewater kan drink. Maak ons vandag soos lewegewende water vir andere.  Amen.

Môre dink ons na oor sneeu, ook een van die groot vyf van die Klein-karoo.

Goed gaan vriende.