Dagstuk | Dinsdag 18 Augustus 2026

Dagstuk | Maandag 17 Augustus 2026
Dagstuk | Woensdag 19 Augustus 2026

Goeiemôre, vriende. Dis Dinsdag 18 Augustus. In ons dagstukkies hierdie week lees ons Bybeltekste oor wilde voëls in God se skepping.

Ons tema vandag is: God gee om selfs vir die mossies.

Tekslesing: Matteus 10:29-31.

Die mossies was nie baie werd geag in Palestina nie. Twee mossies kon buite die tempel in Jerusalem vir ’n stuiwer gekoop word – die kleinste, goedkoopste muntstuk. Daardeur kon ook die armste Israeliete in die tempel gaan offer vir hulle sondes.

Ek wonder of jy nie ook soms so min werd voel soos ’n tempelmossie nie. Jy wens dalk jy was meer talentvol, ’n beter presteerder, sterker, mooier, slimmer, gesonder, gewilder, belangriker, ryker, of ’n mens met meer invloed. Jy voel dalk uitgeskuif, misken, verwaarloos, nie werd genoeg vir aandag nie. Miskien soos ’n vaal, goedkoop mossie tussen die aansienliker voëls.

Jesus sien die mossies as baie werd in God se oë. ’n Goedkoop mossie-offer in die tempel van die Here was genoeg vir die versoening van al ’n mens se sondes, net so goed soos die duur offers van die ryk sondaars. Jesus moes seker ook maar soos ’n min-werd mossie aan die kruis gelyk het toe Hy sy lewe as duur offer vir al ons sondes gegee het.

Miskien is jou lewe ellendig vervalle deur skade en skande, deur siekte en swakheid, dalk selfs naby die dood. Dink juis dan ook aan die mossies. Nie een van hulle val op die grond sonder julle Vader nie, sê Jesus vir sy dissipels. Hy is daar, beskik en laat toe, gee om.

Jy is soos ’n baie-werd-mossie in God se oë, al voel jy soms min werd vir jouself en dalk ook vir andere. Aan die einde sal Hy jou selfs uit die dood optel vir die ewige lewe saam met Hom. Vind jou waarde in hoe God na jou kyk en oor jou dink, liewe mossie.

Gebed:

Dankie, Here, dat ons vir U baie werd is. Dankie dat Jesus aan die kruis geoffer is vir ons sondes, en ons U baie-werd-kinders kan wees.

Seën ons om onsself te sien en te waardeer soos wat U doen. Here Jesus, U is gebore uit U moeder Maria, ’n vrou wat haarself gering genoem het. Gebruik ook ons in U diens, in ons geringheid.

Goed gaan, vriende.