Dagstuk | Dinsdag 18 Junie 2024

Dagstuk | Maandag 17 Junie 2024
Dagstuk | Woensdag 19 Junie 2024

Ons is die week besig met die tema: Om deel van ‘n gemeente te wees beteken om . . . Vandag voeg ons by: om te bid.

 Teks: HANDELINGE 4:24

24Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.

 GEDAGTE

Ek wil vandag begin deur vir jou ‘n paar vrae te vra:

  1. Het jy hierdie week met jou Hemelse Vader gepraat?
  2. Was jy te besig om te bid?
  3. Het jy genoeg gebid?
  4. Was daar ‘n oomblik in die week waar jy Sy teenwoordigheid in jou lewe ervaar het?
  5. Glo jy nog in die krag van gebed?

Dit was baie na aan Jesus se hart dat elke gemeente ‘n huis van gebed moet wees. Ons lees baie duidelik in Matt.21:13 “My huis sal ‘n huis van gebed wees…”. Dit bly steeds een van die grootste uitdagings vir gemeentes om huise van gebed te wees.

Baie min gelowiges verstaan die krag van gesamentlike gebed en baie min gelowiges gebruik die geweldige potensiaal van gebed. Kan jy dink wat sal gebeur as ʼn pa en ma in hul huis elke dag begin saambid, as die leierskap van gemeentes en die leierskap van besighede elke week begin saambid, as gemeentelede eendragtig begin saam bid! Soos ‘n mens deur Handelinge lees kom jy agter dat gebed ‘n integrale deel van die gemeentes in die vroeë kerk was.

Ons lees van talle voorbeelde waar gelowiges bymekaar was om te bid. Die eerste gemeentelede het gereeld in mekaar se huise bymekaar gekom om te bid. Terwyl die gelowiges saam, op een plek, al wagtende, gebid het, is die Heilige Gees uitgestort. Deur gebed het hulle die krag en die leiding van die Heilige Gees ontvang. Deur gebed het mense tot bekering gekom. Omdat hulle volhardend gebid het, kon die eerste gelowiges ook volhard in hulle dienswerk en kon hulle kragtige tekens en wonders doen.

Iewers het ek die volgende gelees: “‘n Kerk sonder ‘n goed georganiseerde gebedsbediening is soos ‘n kerk wat beweeg op ‘n geestelike treadmill”  M.a.w. hulle kom nêrens nie. Die Here soek nie ons godsdienstige besigwees nie. Hy wil hê ons moet Sy aangesig soek. Ek glo nie ons gemeentes het behoefte aan nog meer en beter preke nie. Ons het ook nie meer en opwindende liedere in die kerk nodig, of beter toerusting om die preke meer interessant te maak nie, maar wat ons wel as gemeente nodig het, is  gehoorsaamheid aan Hom t.o.v. ons gebedslewe. Meer tyd moet aan gebed as enige iets anders spandeer word. Dit moet die basis wees waarvan ons werk.

GEBED

Here, maak ons asseblief ‘n biddende gemeente.  Amen