Dagstuk | Dinsdag 19 Maart 2024

Dagstuk | Dinsdag 2 Julie 2024
Dagstuk | Maandag 18 Maart 2024

Vandag is Dinsdag 19 Maart en hierdie week reis ons verder in ons gemeentebelydenis van hoe ons leef as getuies en volgelinge van Christus. Ons fokus die week spesifiek op een van ons gemeentewaardes – nader aan God. Soos ons oor die bogenoemde nadink reflekteer ons vandag oor:

Die verlange van die siel. Die diepste verlange van ons siel is om nader aan God te kom. Dit is in ons DNA verweef om ‘n verhouding met Hom te hê en om Sy teenwoordigheid te soek.

Psalm 145:18 sê dat die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in opregtheid.

Sjoe, wat ’n gerustellende woord vir ons om te hoor. Die wete troos ons siel. God verlang en smag ook na ons. Mag ons Sy teenwoordigheid opsoek met ’n opregte hart. Hunkerend, soekend, wagtend – in afwagting en verwagting van ’n God wat Homself aan ons sal openbaar.

Meister Eckhart, ’n middeleeuse teoloog en filosoof, het ’n diepgaande begrip van die verhouding tussen die siel en God gehad. Eckhart skryf heelwat oor die diepte van die siel. Hy beklemtoon dat God binne die siel woon en dat die siel die vermoë het om tot diep in God se wese in te tree. Hy moedig mense aan om die innerlike stilte te soek waar God gevind kan word.

Wees vandag bewus van God se teenwoordigheid. Ontwikkel ‘n bewustheid van God se teenwoordigheid in jou alledaagse situasies. Dit kan geskied deur stiltetyd, aanbidding, of selfs deur die natuurskoon om jou heen te waardeer.

Gebed: Vader, u skepping is ‘n getuienis van u bestaan en u krag. Help ons om u teenwoordigheid te sien in alles om ons heen en om te groei in die erkenning van u grootheid. Mag ons nooit versuim om U te prys vir die wonderwerke van u hande.

Amen.